“Kleuters is van nature uitsoekerige eters,” sê Saskia Zietsman, ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. “Ná die vinnige groeifase in die eerste lewensjaar, groei kleuters stadiger. Hulle het dan laer energiebehoeftes en sal daarom minder belangstel in eet.”

Saskia verduidelik party kleuters sal hele kosgroepe vermy, soos alle vleis, groente of vrugte, terwyl ander vreeslik min sal eet, en oënskynlik versadig sal wees van ’n enkele skyfie appel of ’n bietjie pap.

“Met ’n bietjie moeite kan jy maaltye en kosse maak wat kleutervriendeliker is. Dit sal op kort en lang termyn die moeite werd wees. Deur vandag vir jou kleuter die regte dieetgrondslag te lê, verseker jy hom of haar van ’n gesonder, gelukkiger môre.”

Hier is Saskia se wenke vir uitsoekerige eters van 1-3:

  • Begin op ’n jong ouderdom nuwe kos voorstel. Vrugte, groente en proteïenryke kos soos melk, eiers, kaas en maer vleis, moet van ses maande af deel van ’n baba se dieet wees.
  • Verskeie ondersoeke het al getoon dat ’n kind herhaaldelik (tot 15 keer) aan ’n nuwe soort kos blootgestel moet word voor hy dit heeltemal aanvaar. Sien en ruik tel nie as blootstelling nie; proe is belangrik, selfs al is dit net ’n mond vol. Dit beteken jy moet jou kind nie te gou ’n uitsoekerige eter noem wanneer jy ’n nuwe kossoort voorstel en hy hou nie daarvan nie. Moet hom nie dwing om dit te eet nie; gee hom net die geleentheid. As hy dit eet, is dit wonderlik. Indien nie, probeer môre-oormôre weer.
  • Laat jou kind met verskillende weergawes en teksture van gesonde kosse eksperimenteer. Bied byvoorbeeld vir hulle fyn pampoen, gekookte pampoenblokkies en selfs pampoenkoekies aan.
  • Moenie altyd verskillende soorte kos (soos vleis, groente en stysel) in ’n puree saammeng nie. Gee jou kleuter die kans om aan die afsonderlike smake gewoond te raak.
  • Skep ’n gelukkige omgewing tydens maaltye. Skakel die televisie of radio af en gesels met jou kleuter terwyl hulle eet. Vertel hulle van die kos wat hulle eet. Watter kleur is dit? Is dit hard of sag? Hoe smaak dit? Prys hulle wanneer hulle hul gesonde kose eet.