Sukkel jy met ’n uitsoekerige kleuter wat botweg weier om sekere kosse te eet? En is jy bekommerd dat sy dalk aan wanvoeding kan begin ly?

“Drie maaltye per dag is vir geen kleuter genoeg nie en dit geld veral vir uitsoekerige eters,” sê Saskia Zietsman, ’n geregistreerde dieetkundige van Kaapstad. “Bied moeilike eters minstens ses maaltye per dag aan.”

Die maaltye en peuselhappies moet gesond en gebalanseerd wees, sê sy. “As jou kleuter nie met ontbyt sy melk drink nie, laat sy tussen kaas en jogurt kies as ’n peuselhappie. En as hy weier om middagete sy vrug te eet, bied hom liewer agtermiddag ’n glasie suiwer vrugtesap aan.

“Met ’n bietjie moeite kan jy maaltye en kosse maak wat kleutervriendeliker is. Dit sal op kort én lang termyn die moeite werd wees. Deur vandag vir jou kleuter die regte dieetgrondslag te lê, verseker jy hom of haar van ’n gesonder, gelukkiger môre.”

Hier is Saskia se wenke vir uitsoekerige eters van 4-6 jaar

  • Die eerste en belangrikste: Stel ’n goeie voorbeeld. Kleuters word die meeste deur hul ouers beïnvloed. Dink goed na oor die kos wat jy eet; watter voorbeeld stel jy?
  • Betrek jou kleuter by die volgende:

AANKOPE – Vat haar saam kruidenierswinkel toe en laat sy kies watter  groente, vrugte, jogurt of kaas jy in die waentjie pak. As jy meer as een kind het, probeer hulle af en toe afsonderlik winkel toe vat.

BEPLANNING – Laat jou kleuter die gesinsmaaltye saam met jou beplan. Gee hom twee of drie gesonde keuses en laat hy kies watter die beste klink.

BEREIDING – Laat sy jou die kos help berei. Jou kleuter kan gekapte slaaibestanddele in ’n slaaibak rangskik, hardgekookte eiers afdop, gekapte vrugteblokkies aan ’n stokkie ryg om vrugtesosaties te maak of die tafel dek.

  • Moenie wanhoop en dan groente in kos begin wegsteek deur dit daarin op te kap of te rasper nie. Dit help nie ’n liefde vir gesonde kos by jou kleuter aankweek nie.
  • Geniet maaltye saam as ’n gesin. Sit aan tafel en skakel die televisie en selfone af. Wees opgewek, gesels met mekaar en vergeet wat by die vorige maaltyd gebeur het. Maak elke aand die eerste aand vir verandering.