Almal wil graag glo hul bloedjies is die liefste, oulikste kinders ter wêreld. Maar is dit regtig waar, en wat moet jy doen om die gawe kinders groot te maak wat jy so graag wil hê?

Navorsers aan die Universiteit van Harvard in die VSA het pas in ’n studie bevind byna 80 persent van die jongmense wat aan die studie deelgeneem het, het gesê hul ouers is baie besorg oor hul prestasies en geluk, meer as wat hulle besorg is daaroor dat hul kind vir ander omgee.

Richard Weissbourd, ’n sielkundige wat deel was van die studie, sê as ons graag wil hê ons kinders moet gaaf wees, moet ons hulle so grootmaak.

“Kinders word nie eenvoudig goed of sleg gebore nie en ons moet nooit moed opgee nie. Hulle het volwassenes nodig wat hulle sal help om in elke fase van hul kinderjare om te gee, respekvol te wees en verantwoordelik op te tree.”

Wenke om gawe kinders groot te maak:

  1. Maak omgee ’n prioriteit. Ouers is geneig om hul kind se geluk en prestasies belangriker te ag as dat hul kind vir ander omgee. Tog is dit belangrik dat jou kind van jongs af leer hulle kan bydra tot ander se geluk.  Vertel jou kinders hoe belangrik dit is om vir ander om te gee. Sê eerder: “Die belangrikste ding is dat jy gaaf is.” as “Die belangrikste ding is dat jy gelukkig is.”
  2. Maak dit ’n reël om vir ander om te gee. “Die belangrikste reël in ons huis is dat ons gaaf moet wees,” skryf Shawn Fink, die stigter van die Abundant Mama-projek op haar blog. “Al die ander dinge in die lewe val onder daardie reël.” Maak ook seker jou kinders spreek ander altyd met respek aan. Jy kan daagliks ’n geleentheid skep waar hulle praat oor iets waarvoor hulle daardie dag dankbaar was.
  3. Skep geleenthede waar jou kinders omgee en dankbaarheid kan beoefen. Soos met die meeste dinge in die lewe, verg dit oefening om te leer gaaf wees. Vra hulle om ’n maat met hul huiswerk te help of die bure se kat te voer wanneer hulle met vakansie is. Praat met jou kind oor voorbeelde wat hulle byvoorbeeld op televisie sien van mense wat omgee.
  4. Stel die voorbeeld. “Kinders leer etiese beginsels deur volwassenes dop te hou wat hulle respekteer,” sê Richard. Dit beteken jy moet self eerlikheid, regverdigheid en omgee beoefen. Doen een maal per maand iets vir ander, selfs al is dit om koekies te bak of ’n vrywilliger by die kerkbasaar te wees. Beter nog – betrek jou kind daarby. Wees ook bereid om jou foute en tekortkominge aan jou kinders te erken. Jy kan jou kind mentor deur moeilike situasies te bespreek waarin hulle hulself bevind.
  5. Verbreed jou kind se omgeesirkel. Die meeste kinders gee om vir hul maats en hul gesin. As ouer is dit jou uitdaging m jou kind ook mense buite dié sfeer te leer omgee, soos ’n nuwe klasmaat, haweloses in jul buurt of iemand wat in ’n ander land swaarkry. Dit is belangrik dat kinders interaksie het met mense van verskillende agtergronde sodat hulle kan leer hoe dit voel om in ander se skoene te staan. Help hulle ’n vakansiewerk kry waar hulle met ander kulture te doen sal kry, of moedig hulle aan om ’n klasmaat te verdedig wat geterg word.
  6. Vier gawe dade. Dit is onnodig om jou kind te beloon vir elke gawe daad – jy mag verwag dat jou kinders om die huis moet help. “Om alledaags gaaf te wees is normaal. Dis hoe dit deel word van wie ons is,” verduidelik Richard. Maar beloon ongewone gawe dade, soos as hulle as vrywilliger by die kerk se markdag help. Wys hulle jy et op wanneer hulle uit hul pad uit gaan om gaaf te wees.
  7. Leer jou kind jammer sê. Lynne Arbuckle, die skoolhoof van Riverside College in Kaapstad, sê dit is moeilik om ’n opregte, diepgevoelde verskoning te maak. “Dit spruit uit die wete dat jy iemand seergemaak het,” verduidelik sy. Vra jou kind hoe sy optrede die ander persoon sou laat voel, en vra hom wat hy daaroor kan doen. “Kinders moet leer om jammer te sê nie hul dade tot niet maak nie.”

- Shané Barnard

Bronne: washingtonpost.com, abundantmama.com, greatergood.berkeley.edu, today.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.