Pravin Gordhan en sy span by die nasionale tesourie beplan ’n terugvegpoging waarby die burgerlike samelewing, sakelui en internasionale beleggers betrek gaan word.

Volgens betroubare inligting van rolspelers by Kerkplein 40, die tesourie se hoofkantoor in Pretoria, is Gordhan se rol as die laaste skans wat die tesourie en die staatsbeurse van staatskapers weghou “kritiek belangrik. Hy is die spilpunt waarom so baie wentel. Soveel word in Gordhan belê dat dit rampspoedig sal wees as hy verwyder word. As dit gebeur, gaan die gevolge verreikend wees. Daardie boodskap moet uitgedra word,” het ’n bron met kennis van tesourie se beplanning aan Huisgenoot gesê.

Die beplanning is vermoedelik soortgelyk as dié in Desember 2015, toe regeringslui en sakeleiers saamgekom het om pres. Jacob Zuma te oorreed om Gordhan as minister van finansies aan te stel.

Lees ook: Hoe het die Valke se aksie teen Pravin Gordhan die rand beïnvloed?

Dis onduidelik of sakeleiers tans met ANC-leiers samesprekings voer. Daar is vrese in tesourie dat die graderingsagentskappe Fitch Ratings en Moody’s nou reeds ’n afgradering van Suid-Afrika se staatskuld gaan aankondig. ’n Derde graderingsagentskap, Standard & Poor’s, is veronderstel om sy gradering aan die begin van Desember aan te pas.

Gordhan se dampkring is ook bekommerd dat gebeure oor die afgelope 24 uur reeds onherstelbare skade aangerig het.

Intussen blyk dit die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) staal hom vir ’n aanslag. Volgens betroubare inligting het die SARB, wat monetêre stabiliteit moet handhaaf, onlangs onder skerp kritiek van Zuma deurgeloop.

Dié kritiek hou glo verband met die besluit van die land se grootste kommersiële banke om te weier om die Gupta-familie, noue bondgenote van Zuma, van bankdienste te voorsien.

Lees ook: Dis waarom Pravin Gordhan geteiken word

’n Ingeligte by die SARB het gesê “daar moet nou hande gevat word” om te keer dat die land nog skade berokken word.

’n Gordhan-vertroueling het ook aan Huisgenoot gesê die gevoel by tesourie is dat die politieke omgewing tans “baie vloeibaar” is en dat hulle nou op die een of ander konfrontasie afstuur.

“Daardie konfrontasie gaan nie skoon wees nie en dinge gaan nie naatloos na die een of die ander kant gaan nie. Maar dis gewis op pad, want dié in beheer gaan dit tot elke prys wil beskerm.”

Dis voorts onduidelik waar adj.pres. Cyril Ramaphosa staan. ’n ANC-leier het vertroulik gesê binne die party is die grootste verbasing dat Gordhan weer geteiken word.

“Ons weet nie presies waar Cyril homself bevind nie, behalwe dat ons weet hy keur dit nie goed nie. Die vermoede is dat Zuma onafhanklik optree en van buite die regering en ANC aangemoedig word.”

Hou huisgenoot.com dop vir nog verwikkelings.