Die sluitingsdatum vir vroue wat vir vanjaar se boere op Boer soek ’n Vrou wil skryf, is 26 Mei om middernag.

Maar hoe gemaak? Moet jy nou skielik vir ’n duur fotosessie gaan? Hoeveel baksels beskuit moet jy saamstuur? Moet jy die brief tik of is dit beter om dit met die hand te skryf?

Wat op aarde gaan jy maak om te verseker dat die boer met die mooi glimlag jóú raaksien?

“Man, my persoonlike opinie is, hou dit so eenvoudig as moontlik,” sê Tickey van Wyk, wat in 2008 aan die eerste seisoen van Boer soek ’n vrou deelgeneem het. Hy is ná die reeks getroud met Selme-Louise, wat voorheen ’n onderwyseres in Nelspruit was.

“Moet nou nie moeite doen en jouself ’n behoorlike makeover gee nie. Wees eerder jou spontane self,” sê hy. “Dit is hoe my vrou my aandag getrek het. Daar was nie fieterjasies nie. En hou die brief kort sodat die man darem nog oor jou wonder.”

Tickey meen hoewel jy met jou brief wil wys jy stel belang, moet jy steeds “ ’n bietjie hard to get speel. “Dit is die X-faktor.”

Hy sê ook op die foto’s is dit beter om net soos jouself te lyk.

“Daar was meisies wat ek glad nie herken het toe ek hulle ontmoet het nie. Op die foto’s lyk hulle soos modelle van Milaan en as jy hulle sien, dan lyk hulle glad nie so nie. Stuur liewer ’n gewone foto, soos ’n familiefoto.”

Flip Kotze, wat aan die tweede seisoen van die werklikheidsreeks deelgeneem het, sê ook ’n brief sonder tierlantyntjies is veel beter.

“Sit so twee of drie foto’s by en vertel iets van jouself, soos watter werk jy doen en of jy op ’n plaas grootgeword het. Dit is die soort goed waarna die ouens kyk.”

Flip dink ook geskenke kan oorbodig wees. “Dit maak dat jy net meer op en af moet loop,” skerts hy. “Maar vir sommige ouens lyk dit dalk of jy moeite gedoen het.”

Tog sê Flip ’n brief wat met die hand geskryf is, is altyd lekker om te kry. “Dit is dalk bietjie outyds, maar dit is vir my beter.”

“Die brief moenie ‘té’ wees nie. Nie té lank nie, nie té veel foto’s nie, net genoeg,” sê Hennie Lötter, wat verlede jaar kykers se hart gesteel het.

“ ’n Geskenk is oulik, maar dit moet iets eenvoudigs wees. Dit wys jy het moeite gedoen, maar moenie oorboord gaan nie,” is sy raad vir vroue wat hierdie jaar vir die boere wil briewe skryf.

“En stuur ’n spontane foto, nie iets wat te erg geposeer is nie. En bly weg van Photoshop,” sê hy laggend.

Vir Hennie was dit verlede jaar belangrik om meer oor die vroue se belangstellings te lees en uit te vind oor hul waardes.

Hy meen ’n kort videogreep gaan dalk meer aandag trek as ’n handgeskrewe brief.

“Ek het nie video’s gekry nie, maar ek weet van die ouens het.”

Pieter Duminy, wat in 2010 aan die reeks deelgeneem het, sê ook vroue moet ’n video-boodskap oorweeg. “Dit maak dit baie meer persoonlik en jy sien baie meer van die persoon.”

Hy meen ook groot geskenke is onnodig. “Stuur dalk eerder ’n sakdoekie of serpie met jou gunstelingparfuum. Dan kan die boer ook sien wat haar smaak is,” stel hy voor.

Hy sê ook dit is belangrik om te onthou dat die brief nie ’n liefdesbrief moet wees nie. “Hou dit oor wie jy is en jou ambisie in die lewe, eerder as dit waaroor jy droom.”