justin-mugshot-full

Justin Bieber het Donderdag (23 Januarie) begin huil in die hof in Miami nadat hy aangekla is van dronkbestuur, dat hy hom verset het teen inhegtenisneming en aan ’n versnelren deelgeneem het.

Die Baby-sanger, wie se borgtog sowat R27 000 beloop, was uiters ontsteld met sy terugkeer na ’n aanhoudingsentrum ná die verhoor.

’n Bron het aan People.com vertel die 19-jarige ster, wat geglimlag het in een van sy polisiefoto’s, het “sy oë uitgehuil” nadat hy saam met sy prokureur, Roy Black, in ’n oranje tronkuitrusting in die hof verskyn het.

Die sanger is Donderdag in Miami Beach in hegtenis geneem nadat hy na bewering aan ’n versnelren deelgeneem het in ’n geel gehuurde Lamborghini. Kort nadat hy ’n bloedalkoholtoets gedruip het, is hy daarvan beskuldig dat hy ’n beampte se bevele verontagsaam het en daar is bevind sy rybewys het verval.

Vogens berigte het die popster se gevolg, onder wie sy pa, Jeremy Bieber, hul motors gebruik om ’n straat naby die Hebreeuse Akademie Miami Beach te blokkeer sodat Justin kon resies jaag.

Raymond Martinez, die polisiehoof in Miami Beach, het op ’n perskonferensie gesê Justin “het dagga gerook en ’n bier gedrink”.

Raymond het gesê Justin het sy samewerking gegee toe hy by die Miami-Dade-tronk opdaag waar sy polisiefoto’s en vingerafdrukke geneem is, voor hy hof toe is.