Kaapstad se Sentrum vir Risikobestuur het Vrydag gewaarsku teen geweldige stormwinde wat die Kaap van Kaap Punt tot Kaap Agulhas gaan ruk, berig News24.

Die Moederstad se rampbestuur het by voorbaat gewaarsku inwoners moet die naweek versigtig wees vir rukwinde, veral tussen geboue. Mense is ook gemaan om op die uitkyk te wees vir vlieënde bome en ander puin. Buiten die rukwinde gaan temperature in die Kaapse skiereiland koelerig oor die naweek met ’n verwagte temperatuur tussen 17 en 27 grade Celsius. Daar is ook ’n 80%-kans op reën, volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens. Gautengers het beduidend minder om oor bekommerd te wees met temperature tussen 20 en 31 grade Celsius en sowat 30% kans vir reën oor die naweek. In Pretoria het ligte reën Vrydag begin uitsak.

In Noord-Wes sal inwonders dankbaar wees vir die lafenis van reën, maar die weerdiens voorspel net ’n 30%-kans. Temperature daar gaan Vrydag styg tot net onder 40 grade Celsius. Soorgelyke weer word vir Mpumalange en Limpopo voorspel met temperature wat Saterdag in laasgenoemde tot 37 grade Celsius kan styg. Volgens ReënvalSA het neerslae reeds in Middelburg in Mpumalanga geval:

Alhoewel die Noord-Kaap matige temperature en reënval kan verwag oor die naweek, waarsku die Weerdiens dat dit tans ’n gevaarsone is vir veldbrande.

In die westelike dele van die Oos-Kaap lyk die kans op reën oor die Kersnaweek skraal met temperature wat kontstant tot bo 35 grade Celsius sal styg.