Een van die ma’s in ons Facebook-groep het onlangs raad gevra oor hoe om haar sewejarige verantwoordelikheid te leer. Hy verloor gedurig sy kosblik en vergeet om sy tuiswerk neer te skryf. Hier is kennersraad:

1.      Wees ’n voorbeeld en stel die standaard: Kinders leer deur voorbeelde te volg. Wanneer jou kind sien jy neem verantwoordelikheid deur byvoorbeeld betyds op te daag vir ’n afspraak, beloftes na te kom en nie verskonings te maak nie, gaan hulle die gedrag aanleer.

2.      Wys verantwoordelikheid geleidelik toe: Daar is nie een spesifieke ouderdom waarteen kinders skielik verantwoordelik raak nie; hulle leer dit geleidelik aan:

  • Voorskoolse kinders kan hul vuil klere in die wasgoedmandjie gooi en hul speelgoed optel en wegpak.
  •  Kleuterskoolkinders moet die tafel kan help dek, hul bed opmaak en die troeteldier se waterbak vol kan hou.
  • Laerskoolkinders kan skoon wasgoed help opvou en wegpak, die huis help skoonmaak en selfs maaltye help berei.
  • Hoërskoolkinders kan elke jaar nuwe verantwoordelikhede in en om die huis aanneem, tot hulle baie van die pligte van ’n volwassene kan uitvoer.

3.      Maak die takies ’n speletjie: Kinders gaan die take meer geniet wanneer dit pret is. Jou laerskoolkind gaan graag die motor help was as hulle ’n bietjie met die tuinslang kan speel.

4.      Leer hulle gevolge: As jou kindbyvoorbeeld ná ’n kunsprojek nie skoonmaak nie, kan hulle nie die volgende dag weer met die skryfbehoeftes speel nie. Hoe meer jy die reëls toepas, hoe makliker gaan jou kind verantwoordelikheid aanvaar.

5.      Tel ’n boek op: Kies boeke vir jou kind wat verantwoordelikheid uitbeeld. Interessante karakters wat jou kind mee kan vereenselwig, gaan hul aandag hou. Verduidelik ook hoekom die karakters so optree in die boek.

6.      Maak dit maklik om te onthou: Moenie verwag jou kind gaan outomaties hul verantwoordelikhede onthou nie. Leer jou kind byvoorbeeld om hulself af te vra of hulle alles vir die skooldag het voor hulle soggens die huis verlaat, of sit kennisgewingborde op om tred te hou van takies en roosters.

7.      Praat oor verantwoordelike dade: Sit elke dag tyd eenkant om te gesels oor die dag se gebeure, en praat af en toe oor verantwoordelike gedrag. Bespreek spesifieke voorbeelde van mense wat jou kind ken.

8.      Prys verantwoordelikheid: Onthou, dit is net so belangrik om die regte gedrag te prys as om die verkeerde gedrag uit te wys. Trouens, dit is belangriker omdat jou prys en erkenning baie vir jou kind beteken. Maar moet dit nie oordoen nie, anders verloor dit sy impak.

- Janine Nel

Bronne: parentfurther.com, care.com, babycenter.com, parents.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.