Nege jaar lank het sy gebid vir nog ’n kind sodat haar seun, René-Charles, ’n boetie of sussie kon hê. En op 23 Oktober is Celine Dion toe dubbel geseën met die geboorte van Nelson en Eddy.

Toe die tweeling vyf weke vroeg hul opwagting maak, was dit die einde van ’n lang en moeilike tyd waarin hul 42-jarige ma ses moordende rondes in vitro-bevrugting ondergaan het.

Die superster het in die afgelope jaar ál meer by die huis gebly om aandag te gee aan RC, soos sy en haar man, René Angélil (68), hul seun noem.

Celine was gek oor die “normale lewe” wat sy kon lei na afloop van haar wêreldtoer in 2009. Sy het behoorlik geblom, RC met sy huiswerk gehelp en selfs vir sy klas, in ’n skool naby hul huis in Florida, pizza vir middagete geneem.

Toe sy swanger word, het sy uit die openbare lewe verdwyn. Sy wou geen kanse waag met die babas nie. Sy het aanvanklik ’n drieling verwag, maar vroeg in die swangerskap een verloor.

En nou is sy reg om haar kosbare tweeling vir die wêreld te wys in hul groot, gerieflike huis met ’n tropiese tema op Florida se Jupiter-eiland. Die trotse ma kan nie ophou glimlag oor haar groot prestasie nie – wat haar betref oneindig groter as die talle Grammy-pryse wat sy al ingeoes het.

Nelson is na oudpres. Nelson Mandela genoem en Eddy na Eddy Marnay, die vervaardiger van haar eerste vyf plate.

Op ses weke weeg die tweelingboeties onderskeidelik 3,6 kg en 3,3 kg en elkeen het klaar sy eie persoonlikheid, sê hul ma. Nelson is pa se kind, terwyl Eddy na haar aard. “Nelson is Angélil; Eddy is Dion,” vertel sy.

Vir Celine was dit pure plesier om haar vir die kamera mooi te maak en sy het self haar grimering aangewend. Dis ’n lekker verandering vir ’n vrou wat in die laaste tyd die grootste deel van die dag in haar nagklere deurgebring het, verklap sy.

“Jy borsvoed ’n uur en ’n half lank, ruil dan doeke om en trek vir hulle skoon pajamas aan. Elke twee en ’n half uur het ek ’n halfuur waarin ek bad, eet of slaap. Dis al wat ek doen – trek uit vir die voeding en trek daarna weer my hemp aan. Ek trek die hele dag lank aan en uit!”

Maar duidelik geniet sy elke oomblik . . .

Moenie die eksklusiewe pragfoto's in Huisgenoot, 30 Desember 2010 misloop nie.