Dis heel moontlik, want voetgangers in Suid-Afrika blyk besonder kwesbaar te wees. Een uit drie padsterfte-slagoffers in ons land is voetgangers. 

Hulle het laas jaar 'n ontstellende 38 persent van padsterftes hier verteenwoordig; dus verreweg die kwesbaarste groep wat SA padongelukke betref.

Daarom sal die nasionale voetgangersigbaarheidsveldtog, #I See You, vir baie padgebruikers groot sin maak. Die Automobiel Assosiasie (AA), in samewerking met die Federation Internationale de l’Automobile (FIA), Ford en Michelin het pas dié projek van stapel gestuur. Maar die boodskap daarvan strek verder as groter voetgangesigbaarheid; dis ook daarop gemik om wedersydse respek tussen motoriste en voetgangers te bevorder.

"Een van die sleutelgevare vir voetgangers is dat motorbestuurders hulle te laat raak sien. Op swak beligte of onbeligte paaie is voetgangers wat boonop donker aangetrek is, dikwels so te sê onsigbaar vir motoriste. In baie gevalle gewaar hulle die voetgangers dan eers wanneer dit te laat is om hulle te vermy. Dis werklik 'n ernstige probleem in Suid-Afrika, wat ons hoop deur hierdie projek sal begin aandag kry,'' sê die AA.

#ISeeYou moedig voetgangers aan om hulself sigbaarder te maak deur waar moontlik in beligte areas te loop en opvallende klere te dra. Andersyds word motoriste gevra om terwyl hulle bestuur, deurgaans vir voetgangers op die uitkyk te wees.

Statistieke bevestig voetgangers loop veral teen skemer soggens of saans groter gevaar, of in mis- of rooktoestande.

So kan jy byvoorbeeld skoliere met weerkaatsers help beveilig

'n Kritieke aspek van #ISeeYou is om voetgangers aan te spoor om glimbande te dra waardeur bestuurders hulle makliker sal gewaar. In die aanvanklike fase sal 14 000 sulke weerkaatsende lyfbande onder voetgangers versprei word. Daar is ook glimstroke wat aan 'n skooltas geheg kan word ("bag tags").

Maar die gedagte is om eindelik dié items aan soveel moontlik voetgangers te verskaf; daarom kan mense gerus www.aa.co.za besoek as hulle 'n paar rand wil skenk vir 'n glimstrook vir 'n voetganger.

Wenke oor bestuur in swak of moeilike lig

  • Onthou faktore soos moegheid, swak konsentrasie en drank word dikwels met ongelukke saans vereenselwig.
  • Nadat 'n mens 'n helder verligte plek verlaat het, duur dit omtrent 'n halfuur voordat jy eers weer met 80% doeltreffendheid kan sien, en tot 'n uur voor jou nagvisie die beste vlak bereik.
  • Motoriste wat kwaai spanning op hul oë ervaar as hulle snags bestuur, moet liewer 'n optometris of dokter gaan spreek.
  • Probeer om nie voortdurend stip in die verte te kyk nie; dit maak jou oë gouer moeg. Wissel die afstand van jou fokuspunt af. 'n Swak beligte voorwerp word ook dikwels makliker raak gesien as jy jou blik effens na die een kant daarvan toe fokus, aangesien periferale minder as sentrale visie deur swak lig beïnvloed word
  • Verminder spoed as jy saans bestuur. Maak seker jy sal binne die afstand wat jou motorligte belig, kan stop. Vergroot ook jou volgafstand saans.
  • Pasop dat die laer winterson jou nie verblind wanneer jy werk toe en terug huis toe bestuur nie. Dis dan baie moeiliker om te sien wat voor jou in die pad gebeur. Wees dan by uitstek versigtig in gebiede met baie voetgangerverkeer, soos by skole, bushaltes en voetgangeroorgange. Kry dus 'n gepolariseerde sonbril en gebruik daarby die afslaan-sonskerms bo jou voorruit. Vergroot ook in sulke toestande jou volgafstand.
  • Maak seker jou voorruit is behoorlik skoon - binne en buite. As jy in gewone toestande nie behoorlik daardeur kan sien nie, gaan dit veel erger raak met skerp sonlig van voor. Moet ook nie sommer met die son van voor jou ruitveër-armpie druk nie . . . so kan jou sig op 'n kritieke oomblik nog veel meer belemmer word.
  • Verminder onmiddellik spoed wanneer jy sukkel om vooruit te sien en gebruik die padmerke as riglyn om jou op koers te help hou. 
  • Waak teen verbysteek in laeson-toestande.