As jy al jare planne beraam om Kersvader te betrap terwyl hy in die middernagtelike ure presente onder jou Kersboom los, maar nog elke Kersfees onsuksesvol is, het ’n Amerikaanse maatskappy ’n tegnologies gevorderde oplossing.

OpticsPlanet het ’n stel gereedskap bekendgestel wat hulle dink Kersvader gaan fnuik en nuuskieriges hom gaan help vang.

Volgens time.com sluit die stelletjie 33 verskillende stukke gereedskap in, onder meer ’n kamera waarmee mens in die donker kan sien, ’n toestel wat met infrarooiligte bepaal hoe ver iemand in die donker van jou af is, ’n oortoestel wat baie sagte klanke optel en ’n veiligheidskamera.

Dié wat desperaat genoeg is om vir eens en vir altyd Kersvader vas te trek, sal egter moet opdok vir al die tegnologie; dit kos sowat R650 000.

Vir dié wat dit nie kan bekostig nie, sal baie koppies koffie naguile moet wakker hou en maar die knoop moet deurhak . . .

– Christiaan Boonzaier