'’n Belasting van 20 persent kan energie-inname met sowat 36 kJ per dag verminder.'

“’n Belasting van 20 persent kan energie-inname met sowat 36 kJ per dag verminder, wat sal lei tot ’n vermindering in vetsug van 3,8 persent by mans en 2,4 persent by vroue,” het die navorser Mercy Manyema Woensdag in ’n verklaring gesê.

Dit beteken ’n vermindering van meer as 220 000 vetsugtige volwassenes in Suid-Afrika. Volgens Mercy is dit die regering se verantwoordelikheid om na die gesondheid van sy burgers om te sien.

“Een manier is om mense aan te moedig om gesonder en meer volhoubare keuses te maak. Belasting op versoete drankies kan dit moontlik doen in die stryd teen vetverwante siektes,” het Mercy gesê.

Akademici aan die universiteit het die navorsing uitgevoer en dit is Dinsdag in die vaktydskrif Plos One gepubliseer.

Die studie het die uitwerking van belasting op versoete drankies op die voorkoms van vetsug by Suid-Afrikaanse volwassenes bestudeer.

Hulle het bevind dat so ’n belasting ’n uitwerking op die vetsugprobleem in die land kan hê, veral by jong volwassenes.

Die akademici het gesê Suid-Afrikaners het die afgelope 30 jaar ál vetsugtiger geraak; die land word nou beskou as die vetsugtigste in Afrika besuide die Sahara.

Meer as die helfte van Suid-Afrika se volwassenes is oorgewig of vetsugtig – 42 persent van vroue en 13 persent van mans.

“Al is versoete drankies nie al oorsaak van ’n toename in liggaamsvet nie, bevat hierdie gaskoeldrank geen noodsaaklike voedingstowwe nie, het dit ’n hoë suikerinhoud en hou dit beslis verband met ’n gewigstoename,” het die senior bydraer tot die studie, prof. Karen Hofman, gesê.

“Net een versoete drankie per dag verhoog volwassenes se kans op oorgewig met 27 persent en kinders s’n met 55 persent.”

Die verslag volg op ’n aanbeveling deur die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, dat suikerryke kos gereguleer word om vetsug en verwante siektes hok te slaan.

- Sapa