Dit was teenstrydige besonderhede wat tydens onderhoude aan die polisie verskaf is, wat hulle op die spoor van Siwaphiwe Mbambo gelei het. Siwaphiwe het Vrydag verdwyn nadat die motor waarin sy gesit het, na bewering gekaap is.

Vrydagaand het haar ma ’n hartverskeurende pleidooi oor die radio gelewer en mense gesmeek om die polisie te kontak sou hulle weet waar Siwaphiwe is.

“Asseblief, asseblief, asseblief – help my om my kind te vind,” het sy gesê.

“Daar het net te veel teenstrydighede tydens die onderhoude opgeduik, veral rondom die aanvanklike aanmelding van die saak en hoe die voorval verloop het,” het brigadier Sally de Beer, nasionale polisie-woordvoerder, gesê.

Dit sou daartoe lei dat daar ’n padblokkade by Marannhill gehou is. ’n Man en vrou is in die motor saam met Siwaphiwe gevind.

“Drie mense, waaronder die baba se 34-jarige biologiese ma, ’n man en nog ’n vrou is in hegtenis geneem. Die drietal is nou in aanhouding.

Die baba is in die sorg van die departement van maatskaplike ontwikkeling.

“Selfsugtige motiewe”

Siwaphiwe se ma het aanvanklik beweer dat die motor by ’n Durbanse winkelsentrum gekaap is. Siwaphiwe sou op die agterste sitplek van die motor wees toe die voorval plaasgevind het.

’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur en ’n beloning van R250 000 is uitgeloof vir enige inligting wat daartoe sou lei dat Siwaphiwe gevind word.

“Die Suid-Afrikaanse polisiediens het baie aan dié saak spandeer. Dit sluit ook lede in wat oortyd gewerk het,” het brigadier De Beer gesê. Sy het bygevoeg dat die aanwending van polisiebronne deur mense met “selfsugtige motiewe” nie verdra sal word nie. ’n Spesiale aanklaer is Sondag vir die saak aangestel. “Diegene wat in hegetenis geneem is, sal binnekort in die hof verskyn.” Intussen het Felokwakhe Mbambo by die Durban Sentraal-polisiestasie aangekom om sy dogter te sien.

Hy het aan East Coast Radio vertel hoe hy gevoel het toe die polisie hom 03:00 Sondagoggend laat weet het sy dogtertjie is veilig.

“Twyfelagtige situasie”

Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, luit.-genl. Khomotso Phahlane, het sy dank uitgespreek dat die baba uit wat minstens as ’n “twyfelagtige situasie” beskryf kan word, gered is.

Hy het sy dank uitgespreek teenoor die polisie en ander wetstoepassende agentskappe en sekuriteitsmaatskappy, asook die gemeenskapsgeoriënteerde lede van die publiek wat met die soektog behulpsaam was.

“Ons is ’n wonderlike gemeenskap wat vir ander omgee. Dit is teleurstellend wanneer mense mede-Suid-Afrikaners se vertroue en geloof in die mensdom uitbuit. Vals berigte van misdaad wat die hele land in ’n toestand van hartseer en kommer laat, moet verdoem word,” het hy gesê.

Bronne: ecr.co.za, timeslive.co.za, news24.com