Vier familielede is op Valentynsdag dood gevind op hul plaas tussen Balfour en Devon in Mpumalanga.

Die Heidelberg/Nigel Herault het Woensdagmiddag dié foto van een van die verdagtes in verband met die voorval op hul Facebook-blad gedeel.

Die inhegtenisneming is te danke aan puik samewerking tussen Balfour en Nigel se polisiediens, die Valke en ’n opsporingsmaatskappy.

’n Tweede verdagte is luidens berigte vasgetrek in ’n kafee op Balfour, waar hy glo houtgerus iets te ete geniet het. Hy is in Heidelberg se hospitaal opgeneem nadat hy tydens sy inhegtenisneming gewond is. In hierdie stadium is vier verdagtes reeds in aanhouding, onder wie twee Mosambiekers en twee Nigeriërs. Laasgenoemde twee is volgens Netwerk24 aangekeer toe hulle met twee van die oorledenes se skootrekenaars vasgetrek is. Die liggame van Louis Smuts (48), sy vrou, Belinda (42) en sy bejaarde ouers, Gert (78) en Paulina (77), is ongeveer 20 km van Balfour gevind. Al vier is in die kop geskiet.

Louis en Belinda se geskokte kinders, Marcel (21) en Cherize (18) ontvang luidens berigte berading.

Die verdagtes het met die gesin se Toyota Prado van die toneel gevlug. Die voertuig is op Balfour opgespoor.

Wouter Nel, voorsitter van Balfour se boerevereniging, het aan News24 gesê die aanval het vermoedelik reeds Maandagaand plaasgevind. “Louis se beeste was nie in die kraal, soos gewoonlik die geval was, nie.”

Die viertal sal na verwagting Donderdag in die hof verskyn op onder meer aanklagte van moord, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig.

Bronne: news24.com, netwerk24.co.za, heidelbergnigelheraut.co.za