Stigter Imtiaz Sooliman sê gewapende mans het die Johannesburgse joernalis Shiraaz Mohamed na ’n onbekende plek geneem nadat hulle Dinsdag hul konvooi op die Aljamiliyeweg voorgekeer het.

Shiraaz, saam met twee lede van die organisasie, was onderweg na die Turkse grens om die land te verlaat.

“Hulle het die pad geneem wat hulle gewoonlik sou neem as hulle pasiënte per ambulans vervoer,” sê Imtiaz.

“Dit is ’n relatief veilige roete. Daar was in al die jare nog nie ’n voorval daar nie.”

Die geselskap was by ’n punt gestop en gevra oor Shiraaz se nasionaliteit, paspoort en geloof.

Hulle is toegelaat om verder te gaan en verby die Gift of the Givers Al Hilal-hospitaal, maar daar het twee motors hul voertuig vasgekeer.

Die bestuurder het op die toeter geblaas vir die twee motors sodat hulle uit die pad kan beweeg.

“’n Paar mans met gewere het uitgeklim en kalm na die motor beweeg. Hulle het die deure oopgemaak, ’n geweer teen ons twee mense se kop gehou en na Shiraaz gekyk,” vertel Imtiaz.

Die Gift of the Givers-span het die mans gevra om Shiraaz nie te neem nie omdat dit die steun van die hospitaal kan belemmer.

“Hulle het geantwoord dat hulle dink daar is ’n misverstand en hulle hom moet ondervra en het bygevoeg hulle sal hom binne twee dae terugbring.”

Dit is onseker wat die misverstand was.

Die drie was geblinddoek en hulle is vir ’n uur rondgery. Die onbekende mans het die foon van een van die mans gekonfiskeer nadat dit begin lui het.

Hulle het die twee spanlede later vrygelaat en die selfoon is terug besorg.

“Toe ons twee spanlede gevra het wie hulle was, het die mans gesê hulle verteenwoordig alle groepe in Sirië.”

Die gewapende mans het glo die presiese plek waar hulle was aan die spanlede gegee toe hulle afgelaai is. Hulle het gesê hulle sal ná twee dae Shiraaz terugbesorg by die Ar Rahma-hospitaal – sodra hulle hom ondervra het.

Die groep het Shiraaz nie teen Donderdag teruggeneem nie.

Imtiaz sou die departement van buitelandse sake en samewerking Saterdag hiervan ingelig het. Shiraaz het tonele van die Siriese burgeroorlog asook die lewe van kinders en volwassenes wat die stryd oorleef het, vasgevang.

Bron: News24