Sou Jayde Panayiotou die drie skote oorleef het wat op haar gevuur is, sou sy dalk nooit weer kon loop nie. Kapt. Gideon Oliver, ’n ballistiese kundige met 17 jaar ervaring, het al meer as 4 500 sake agter sy naam. Hy het Dinsdag in die hof getuig hy het ’n verseelde houer met bewysstukke ontvang, onder meer drie 9 mm-Parabellum-patroondoppies. Daar was ook ’n bruin koevert met ’n stukkie materiaal wat uit ’n top se rugkant gesny is.

Dit was juis op dié stuk materiaal dat hy die ingangspatroon van twee koeëlgate gevind het. Geen residu is gevind nie. Dit beteken die skote is van ’n afstand gevuur.

Gideon het die misdaadtoneel op 22 April 2015 saam met a.o. Becker besoek. Hy moes foto’s uit ’n album aan die hof identifiseer. Van die foto’s is nie op die skerm in die hof vertoon nie.

Toe Gideon op 23 April na die toneel terugkeer, het hy die plek ondersoek waar Jayde se kop was. Hy het getuig hy het opgemerk die blare en grond daar lyk ongewoon. By nadere ondersoek het hy ’n koeël uitgegrawe.

Die polisieman het getuig hy sal by die laaste skoot begin en terugwerk na die begin. Die laaste skoot was die een wat Jayde se kop deurboor het.  “Die ingangswond was voor die linkeroor. Dit het regs uitgekom, agter haar kop.” Dit was hierdie koeël wat in die grond vasgesteek het. Dit beteken die skieter was by Jayde se linkerskouer.

Daar was geen roet, brandmerk of geskeurde vel waar die koeël Jayde se kop binnegedring het nie. Dit dui daarop dat die loop verder as 500 tot 600 mm weg was. Gideon het uit die bank opgestaan om die hof te wys hoe die skieter waarskynlik oor Jayde gestaan het. Hy het ook aan die hof geïllustreer watter verskil dit sou maak as die skieter regop eerder as op sy knieë gestaan het.

Daarna is die skote bespreek wat Jayde in die boonste helfte van haar rug getref het. Een het aan die linkerkant van haar borskas uitgekom en die ander onder haar regterkantse armholte. Een van die twee  het haar rugstring getref. 

Tydens die lykskouing het die dokter bevind daardie skoot  het Jayde waarskynlik verlam gelaat. Gideon het getuig die tweede rugskoot het Jayde in die rugstring getref.

Hy het ook gesê al drie skote is met ’n semi-outomatiese wapen afgevuur.