Ans Botha is die brein agter Wayde van Niekerk se ongelooflike Olimpiese prestasie, sê Gielie Hoffmann, ’n bekende lewensafrigter van Pretoria. Sy is die persoon wat Wayde se beplanning doen, wat bepaal hoe hy gaan hardloop en in watter resies hy gaan deelneem. Sy berei hom voor vir die intensiteitsvlak op die baan, om elke dag op ’n hoë standaard, konsekwent te oefen. Sy berei hom ook vir die drukkoker van internasionale byeenkomste voor.

“Wayde het aan die begin van die jaar aan verskeie 100m en 200m wedlope deelgeneem om spoed te kry voor hy die 400m in die Spele aangedurf het. ’n Atleet hardloop nooit sonder ’n plan nie,” sê Gielie, wat die tennisspeler Raven Claassen in 2016 tot in die halfeindronde van die dubbelspel vir mans by Wimbledon gehelp het.

Hy het ook al toprugbyspelers soos Morné Steyn en Francois Hougaard gehelp om beter te presteer.

“Wayde werk nie net vir die afgelope ses maande aan sy atletiekvaardigehede nie; hy en Ans moes al vir die afgelope drie jaar begin voorberei aan hierdie merkwaardige wedloop wat hy nou gewen het.

“Hulle moes besluit wat Wayde se beste taktiek op die baan sou wees: om vinnig weg te spring of om terug te hou en hom sterker te laat klaarmaak.”

Gielie sê enige atleet se sukses hang ook van selfvertroue af.

“Die atleet se selfvertroue moet rotsvas wees. Dit word gekweek gedurende die oefening as hy sien hy word sterker en vinniger en wanneer hy sukses behaal. Wayde se vorige prestasies het hom beslis selfvertroue gegee.”

Hy moet ook tydens oefensessies goeie roetines en gewoontes hê, ook wanneer hy na ’n wedloop afkoel, sê Gielie. Hierdie gewoontes help hom kalmeer.

Maar ’n atleet se psigiese-fiksheid speel net so belangrike rol op die baan as sy liggaam.

“Dis vir alle atlete uitputtend as die media en kenners hom heeltyd beoordeel en elke beweging van dophou, soos hulle met Wayde gedoen het. Dit kan hulle van koers af gooi. Ans sou moes seker maak Wayde gee nie te veel aandag aan dit nie en al sy vertroue moes in sy afrigter gewees het,” sê Gielie.

Visualisering is ook baie belangrik vir sukses.

“Die atleet moet daardie wedloop van begin tot einde in sy kop visualiseer. Jou brein kan nie onderskei tussen werklikheid en visie nie. As die atleet dus die eerste keer voor duisende mense deelneem, sal daar geen verrassings vir hom wees nie. Dit sal vir hom voel of hy reeds daar was.”