In ’n video wat vandag in die hof gewys is, kan gesien word hoe Howard Oliver kapt. Deon Bock na die misdaadtoneel neem waar die 16-jarige tiener verkrag en vermoor is. Volgens Oliver het hy op daardie noodlottige dag diep die Tokaibos binnegeloop om in vrede te rook. Hy het vantevore getuig dat hy mandrax gebruik het. Hy vertel dat hy ’n meisie met oorfone aan sien draf het. Hy het ook haar selfoon, ’n iPhone, gesien. Toe hardloop hy haar in en gryp hy haar van agter om die nek.

Met sy arms steeds om Franziska se nek het hy die tiener ’n fynbosgebied binnegesleep. Hulle het op die grond geval. Franziska het probeer om sy arms om haar nek los te kry. “Ons het geworstel,” sê hy in die video.
Hy beweer dat haar horlosie tydens die worsteling verlore geraak het. Sy het volgens hom haar bewussyn verloor. Oliver het daarna haar hande voor haar lyf met haar eie skoenveter vasgebind.

Die saak sal Maandag voortgaan. Tydens die verrigtings sal die deel van die video vertoon word waarin hy beskryf hoe hy haar beroof het.

Intussen is daar ’n bevel uitgereik vir die inhegtenisneming van Daniel Easter wat vandag in die hof moes verskyn het.

Hy is in Februarie ’n opgeskorte vonnis opgelê nadat hy erken het dat hy Franziska se iPhone vir R200 gekoop het. Hy het beweer hy het die gesteelde selfoon by Jerome Moses en Oliver gekoop.