Die koning van pop, wyle Michael Jackson, het weer ’n verskyning gemaak – as ’n hologram – toe hy by die 2014 Billboard-musiekprysaand optree.

Die hologram het gesing en gedans op die liedjie A Slave to the Rhythm en het ’n goue baadjie, wit T-hemp en rooi broek aangehad. Daar was ook ’n orkes en dansers op die verhoog.

Die liedjie is in 1991 opgeneem en as deel van die album Xscape uitgereik, wat liedjies insluit wat nog nie uitgereik is nie.

Michael se “optrede” was tot die laaste oomblik ’n dig bewaarde geheim, en volgens die organiseerders het 104 kunstenaars en tegnici ’n jaar daaraan gewerk .

Michael is in Junie 2009 in die ouderdom van 50 oorlede nadat hy ’n oordosis van die sterk verdowingsmiddel propofol geneem het. Xscape is sy tweede postume album.

Die geleentheid is by die MGM Grand in Las Vegas gehou. Jennifer Lopez en die Brasiliaanse ster Claudia Litte het saam met die vrapper Pitbull die liedjie We are the One (Ole Ola) uitgevoer, wat die amptelike liedjie van die 2014-Wêreldbekersokkertoernooi is. Shakira het Empire, haar jongste treffer, uitgevoer en die Australiese rapper Iggy Azalea het saam met die Disney-ster Ariana Grande opgetree.

Miley Cyrus, wat tans in Londen op toer is, het die Beatles-liedjie Lucy in the Sky with Diamonds gesing, ’n liedjie wat veel ouer as sy is. Die stoute ster het opgetree in ’n uitrusting wat lyk of dit van goue klaterstringe gemaak is.

Justin Timberlake is aangewys as die beste kunstenaar, terwyl Jennifer die ikoon-prys gewen het. Justin het sewe beeldjies gewen, onder meer vir die beste manlike kunstenaar.

Ander wenners, wat deur Billboard (die musiekbedryf se voorste publikasie) aangewys word, sluit in die Nieu-Seelander Lorde in die kategorie die beste nuwe kunstenaar, Imagine Dragons in die kategorie beste duo of groep, Katy Perry in die kategorie beste vroulike kunstenaar en Justin Bieber as die beste sosiale kunstenaar.

Justin het Miley, Rihanna, Taylor Swift en die Britse seunsgroep One Direction vir dié eer uitgestof.