Die Nigeriër Harrison Okene (29) se oorlewingsverhaal het in die oggendure van 26 Mei begin. Die Jascon 4, ’n Nigeriese sleepboot, het omgeslaan met 12 mense aan boord terwyl dit ’n olietenkskip gestabiliseer het toe dié olie inneem by ’n Chevron-stasie sowat 30 km van die Nigeriese kus. Hy was in ’n toilet toe hy besef die sleepboot slaan om.

“Ek was duiselig en alles was donker. Ek is van die een kant van die klein vertrek na die ander gegooi,” het hy aan ’n Nigeriese koerant gesê.

Die boot het al sy krag verloor en die bemanning is in duisternis gedompel. “Toe ek uit die toilet kom, was dit pikdonker. Ons het ingehaak bymekaar na die luik probeer gaan om uit te kom. Daar was drie mans voor my. Skielik het water hulle met alle mag getref. Ek het gesien hoe die eerste, tweede en derde man weggespoel word. Ek het geweet hulle is dood.”

Harrison, met net ’n onderbroek aan, is in die gang af tot in ’n tweede toilet gespoel, reg langs ’n offisier se slaapkajuit. Hy kon homself tot in die kajuit sleep, waar lug vasgekeer was. Daar het hy amper drie dae (sowat 60 uur) gebly terwyl die water stadig gestyg het. Hy het kaste en matrasse bo-op mekaar gestapel om bo die watervlak te bly, tot daar net sowat 1,2 m tussen die water en die bokant van die kajuit oorgebly het. “Ek het seker honderd keer gebid,” onthou hy. “Ek het gedink aan die Bybelverse wat my vrou aan my gestuur het om te lees voor ek gaan slaap.”

In die lang ure in die donker kajuit het hy gedink hy hoor hoe visse deur die water in die romp swem en aan sy dooie makkers vreet. “In daardie stadium was ek baie bang.”

Ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het hy ’n gehamer gehoor. Dit was die Suid-Afrikaanse duikers wat die luike met hamers en koevoete oopbreek.

’n Duikklok het die drie duikers tot bo die wrak gebring. Hulle is die romp een op ’n slag binne omdat hulle bang was dit kan dieper in die modder wegsink.

Dit was Nico van Heerden (32) van die Strand se werk om die luike stelselmatig oop te kry en lyke te soek. Hy is een van vier Suid-Afrikaners wat vir die Hollandse duikmaatskappy DCN werk. Oor die radio word sy boodskap met verbasing gehoor deur sy mededuikers, Darryl Oosthuizen (47), van Kaapstad, en André Erasmus (42), van Durban, asook die span op hul moederskip, die Lewek Toucan.

Darryl het by die ingang gebly en gesorg dat die koord wat Nico met die duikklok verbind en van suurstof voorsien, nie verstrengel raak nie. André het sy twee spanmaats se koorde vanuit die duikklok gemonitor.

Harrison het teen die kajuitmuur begin kap om hul aandag te trek, maar ná ’n ruk was dit weer stil; sy hoop verpletter.

Maar toe sien hy ’n flikkering in die water: Nico se flitslig. Die jong kok het besef dis dalk sy laaste kans om gered te word. Hy het in die water gespring en aan Nico geraak toe hy teen ’n trap op na die hoofdek swem.

Kyk hier na die reddingsvideo:

Harrison is nou veilig tuis by sy vrou, Akpos, in Warri. Maar sy beproewing spook nog by hom. “Wanneer ek slaap, voel dit soms of my bed sink,” het hy onlangs aan Reuters vertel. “Dan dink ek ek is steeds in die see. Ek spring op en skree.”

Hy glo dis ’n wonderwerk dat hy gered is. “Ek weet nie wat gekeer het dat die water daardie kajuit vul nie. Die Here het dit gedoen. Dis ’n wonderwerk.”

So het die redding gewerk:

Duikbootongeluk IG

Bron: Huisgenoot 27 Junie 2013, YouTube, Sapa