Kim Kardashian het verklap sy het die Atkins-dieet gevolg om die vetjies af te skud wat sy met haar swangerskap aangesit het.

Die ster van Keeping up with the Kardashians het haar mooi verslank ná die geboorte van haar en Kanye West se dogter, North West, in Junie. Sy het haar dieetgeheim op Sondag 13 Oktober op Twitter verklap.

Toe ’n aanhanger vra hoe sy soveel gewig verloor het, het Kim geantwoord: “Ek het die Atkins-dieet gedoen en is mal daaroor.”

Die dieet, wat gewild is sedert die boek Dr. Atkins’ New Diet Revolution in 2002 verskyn het, behels die uitsny van verwerkte voedsel en koolhidrate. Die streng eetplan is ’n ou gunsteling van Kim.

Jennifer Livingston, ’n woordvoerder vir Atkins Nutritionals, het aan die New York Daily News gesê: “Nadat haar baba op 15 Junie gebore is, wou sy die babagewig op ’n doeltreffende en gebalanseerde wyse verloor. Sy het Atkins al tevore gedoen en weet hoe dit werk.”

Kim (32) het glo die eerste stadium van die dieet, waarin koolhidrate uitgesny word, oorgeslaan. Omdat sy geborsvoed het, het sy met die tweede deel van die dieet begin, waarin graansoorte soos bruinrys en heelkoringpasta toegelaat word.