Jayde Panayiotou se vriende en familie moes Donderdag in die hof in detail hoor hoe sy gesterf het. Forensiese patoloog Kevin Fourie, wat die nadoodse ondersoek op 23 April 2015 op haar gedoen het, het getuig dat die skote aan haar skedel en bors haar dood veroorsaak het. Sy is op 21 April verlede jaar drie keer geskiet. Koeëls het ook haar rugwerwel en longe getref. Die koeël wat deur haar kop gegaan het, het aan die linkerkant ingegaan en is aan die anderkant uit.

Ten tyde van haar dood het sy ’n horlosie op haar linkerpols en armband aan haar regterpols gedra.

Jayde se man, Christopher Panayiotou, wat tereg staan op haar dood, het geen emosie getoon terwyl die verslag bekend gemaak is nie. Saam met hom word Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko ook aangekla van moord, sameswering, ontvoering en roof. Christopher het onskuldig gepleit. Die staatsaanklaer, Marius Stander, wou weet hoe naby die moordenaar aan Jayde gestaan het. Kevin het geantwoord sowat 1 meter. Jayde se ma, Michelle Inggs, het met ’n geboë hoof na die grusame details van haar dogter se dood gesit en luister. ’n Familievriend het vir haar sneesdoekies gegee en sy het gesukkel om haar emosies te beheer. Haar suster, Toni Inggs, het die hof verlaat.

Jayde het ook snye aan haar vingers en pols asook onder haar elmboog gehad.

Ander beserings het ingesluit ’n harde hou teen die kop met ’n stomp voorwerp en volgens Kevin stem dit ooreen met die staat se teorie dat sy met die agterkant van ’n pistool geslaan is.

Die ondersoek het bevind dat sy nie verkrag is nie.