In ’n eksklusiewe onderhoud met EWN het die 22-jarige Springbok-losskakel, Handré Pollard, vertel dat hy byna sy linkerarm verloor het. Terwyl hy in Pretoria was vir die behandeling van ’n kniebesering wat hy in 2016 tydens die opwarmingswedstryde vir die Super Rugby-seisoen opgedoen het, het hy besluit om sommer terselfdertyd ook aandag aan ’n ouer skouerbesering te laat skenk. Die besering aan sy linkerskouer het hy tydens die Wêreldbekertoernooi in Engeland opgedoen en hy het nog steeds las daarvan gehad. Hy het die operasie as ’n sukses bestempel. Maar na sowat ses weke het die pyn nie beter geraak nie. Handré het nog infeksie in die skouer gewaar.

Hy het weer na die hospitaal teruggekeer waar alles weer “mooi skoongemaak is, maar toe raak sake erger.”

’n Derde besoek aan die hospitaal binne nege weke het antwoorde verskaf. Sy skouer was gelukkig stabiel genoeg sodat hulle die skroewe kon verwyder.

Infeksie in die groewe van die skroewe wat in sy skouer ingeplant was, was die sondebok wat die moontlikheid van amputasie byna werklikheid laat word het.

’n Verdere vyf weke van intensiewe behandeling en hope antibiotika in die hospitaal het gevolg.

“Sover ek weet, is alles nou in orde,” sê Handré.

Bron: ewn.co.za