In Suid-Afrika was daar nog nie sprake van TV-uitsendings nie, maar daar was ’n radio in feitlik elke huis. Die kans was goed dat elke denkbare radio op hierdie geskiedkundige oomblik ingeskakel was.

Die reis van 390 000 km na wat voorheen bloot as ’n plat skyf bestempel is, se vlerke is byna geknip toe hulle die maan met 500 km misvlieg! Daar is snelheid verminder en die regte wentelbaan is gevind.

Om 19:47 (Suid-Afrikaanse tyd) op 20 Julie 1969 het Neil Armstrong en Buzz Aldrin hulself in die maanlandingsmodule, die Eagle, bevind wat pas van die hoofruimtetuig, die Columbia, ontkoppel het. Michael Collins het in die hooftuig agtergebly.

Met die landing op die maan se See van Kalmte het sake byna-byna skeefgeloop. Daar was twee vuurpyle gekoppel aan die Eagle wat moes ontbrand om die landing te buffer.

Als goed en wel, dit het ontbrand. Maar die rekenaar aan boord het oorlaai geraak met alles wat tegelyk gebeur – en geel waarskuwingsligte het begin flikker.

Die volgende skok was dat die oppervlakte geensins gelyk was nie. Die beplande landingsterrein was vol rotse en klippe. Buzz het Neil se “oë” geword en hom so gehelp om ’n betreklik skoon landingsplek te kry.

Neil se polsslag het van ’n rustige 77 slae per minuut tot 156 per minuut opgeskiet tydens dié spanningsvolle oomblikke. Naastenby drie uur ná die ontkoppeling van die Columbia, om 22:17, vind die Eagle sy voete op die maan.

En om 22:18 hoor die span op aarde daardie onvergeetlike woorde: “Houston, Kalmte-basis hier. Die Eagle het geland.”

Wat ’n verligting moes dit nie vir die span op die maan en in die Kennedy-ruimtesentrum gewees het nie. Die Eagle het net genoeg brandstof oorgehad om nog 40 sekondes aan die gang te bly.

Op 21 Julie 1969 om 04:56 uiter Neil Armstrong daardie roemryke woorde toe hy die eerste man word wat ’n voet op die maan sit: “Een treetjie vir die mens; een reuse-sprong vir die mensdom.”


In wat waarskynlik as die verste langafstandoproep bestempel kan word, het die destydse Amerikaanse president, Richard Nixon, twee minute lank met die twee manne op die maan gepraat. Dié oproep is ook gebeeldsend.

Buzz en Neil het vir die volgende twee uur maanrotse en data ingesamel voor hulle oornag het in die Eagle.

Die vlagplanting het ook nie seepglad verloop nie. Die vlagpaal en die dwarsbalk waaraan die vlag sou hang, wou nie een behoorlik oopvou nie. Die klipharde maanoppervlakte het sake nie vergemaklik nie.

July 20, 1969. #apollo11 #manonthemoon #eaglehaslanded #buzzaldrin #neilarmstrong #nasa

A post shared by Andrea Doro (@golden_andros) on

Fyn – eintlik perfekte tydsberekening – was nodig sodat die Eagle en die Columbia op 21 Julie om 23:35 herkoppel kon word.

Die Amerikaanse president Richard Nixon verklaar 20 Julie 1971 as nasionale maandag ter herdenking van die maanlanding. Dit word steeds jaarliks in Amerika gevier.

Bronne: NASA, Die Beeld-argiewe, Die Mieliestronk, edition.cnn.com, wikipedia.com


Save