Die konstitusionele hof in Johannesburg het Vrydagoggend beslis Cash Paymaster Services (CPS) se kontrak met die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) moet vir nog ’n jaar verleng moet word.

CPS was die diensverskaffer wat tot einde Maart betalings van staatstoelaes aan behoeftiges moes hanteer en daar was groot kommer dat ’n plaasvervanger nie betyds gevind sou word om die toelae se betalings vanaf 1 April te behartig nie.

Die konstitusionele hof het in 2014 beslis die kontrak tussen Sassa en CPS is onwettig en nie grondig nie. Die hof het Sassa en CPS toe tot 31 Maart 2017 gegee om ander reëlings te tref sodat toelaes uitbetaal kan word.

Die nieregeringsorganisasie Black Sash het die dringende aansoek gebring waarin daar gevra word dat die hof ’n toesighoudende rol in die betalingskrisis speel.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het vroeër hierdie week in die hof sy teleurstelling met Sassa en die minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, uitgespreek.

“Hoe bereik julle die punt waar jou kliënte hulself onbevoeg laat lyk en jy nie eens kan verduidelik hoe julle dié punt bereik het nie?” het die hoofregter aan Andrew Breitenbach, Dlamini se regsverteenwoordiger, gevra.

Hy wou ook weet waarom Dlamini niks gedoen het toe sy bewus geraak het daarvan dat Sassa nie alleen die toelaes sal kan behartig nie.

Hy het opgemerk dat dit een van haar hoofverantwoordelikhede is om te sorg dat toelaes uitbetaal word en dat sy vorderingsverslae van Sassa moes eis.