Esmaré Weideman, uitvoerende hoof van Media24 en voormalige hoofredakteur van Huisgenoot, onthou die dag toe sy Madiba die laaste keer gesien het.

Die jaar was 2008, die eerste jaar van Huisgenoot se jaarlikse Liedjieskryfkompetisie, ‘n wedstryd om nuwe talent raak te boor.
"Die resultaat was ‘n roerende ballade aan die nou ontslape staatsman."

‘n Engelse boervrou van Willowmore, Sandra O’Kelly het ingeskryf in die kategorie woorde sonder musiek, en die formidabele Sarah Theron – net so opgewonde oor die pragtige woorde – het dadelik ingestem om Sandra se “Briefie aan Madiba” te toonset. Die resultaat was ‘n roerende ballade aan die nou ontslape staatsman.

Dit was Willem Breytenbach, destyds uitgewer van Huisgenoot, se idee dat ons Sandra die geleentheid moet gee om Madiba te moet. Willem was destyds Huisgenoot se uitgewer, ‘n man met ‘n groot hart, en ek die redakteur met ‘n kontak of twee in Madiba se kantoor. En Willem was vasbeslote dat Sandra self haar liedjie vir Madiba moet neem.

Ek bel Madiba se assistent, Zelda le Grange (self ‘n groot aanhanger van Afrikaanse musiek), en verduidelik ietwat verleë ons versoek.

Madiba is toe al afgetree, maar nog taamlik gereeld by die Mandela-stigting se kantoor waar hy mense van oor die wêreld steeds te woord staan. Binne ‘n dag is alles gereël. Die enigste voorwaarde: geen foto’s en geen publisiteit nie. En so gebeur dit dat Sandra, Sarah en ek voor Madiba se kantoor sit en wag. Billy-Jean King, die legendariese tennisspeler, kom uit. Dis ons beurt. Sandra het haar liedjie op pragtige papier laat druk en met ‘n strik vasgebind. Sarah het ‘n handvol CD’s saamgebring. Madiba, helder en fier vir ‘n man van byna 90, groet vriendelik van agter sy ruim lessenaar. Zelda verduidelik hoekom ons daar is en Sandra stap tot by Madiba om haar liedjie vir hom te wys. “Lees dit vir hom,” moedig Zelda haar aan. Sandra kom so tot by die derde reël, toe loop die trane. Die oomblik net te groot.

"Ons het nooit ontmoet nie, maar voordat jy groet. Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet . . .”

Sarah kom tot die redding en lees met ‘n sterk stem die woorde:

“Liewe Madiba, ek skryf die vir jou.

Ek weet jy kry briefies soos my een aan jou.

Ons het nooit ontmoet nie, maar voordat jy groet.

Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet . . .”

Madiba sê baie dankie. Maar nou het hy iets anders op die hart.

“Sê my,” sê hy en draai na my toe. Ons het mekaar gereeld gesien na hy uit die tronk gekom het en ek politieke joernalis was. “Toe ons in die tronk was, was daar hierdie meisie. Hierdie Afrikaanse meisie. Sy en haar boetie het iewers in die sneeu en bittere koue verdwaal. Ek wonder nou al so lank wat het van haar geword?”

Zelda en ek kyk vir mekaar oor die breedte van die kantoor. Hy praat van Racheltjie de Beer, besef ons albei. Vir ‘n paar oomblikke is ons geliefde Madiba terug in ‘n verre verlede. My oë pleit. Wat moet ek sê? Sy skud haar kop liggies, self nie seker nie.

Ek stap tot by Madiba en neem sy hand. “Madiba,” sê ek, so rustig soos ek kan. “Sy is oukei.” “O, dis goed,” sê hy. Dankbaar en verlig.

Dit was die laaste keer wat ons mekaar sou sien.

So lui die volle lirieke - Briefie aan Madiba, Sarah Theron:

Liewe Madiba, ek skryf die vir jou.

Ek weet jy kry briefies soos my een aan jou.

Ons het nooit ontmoet nie, maar voordat jy groet.

Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet.

Gee my jou boeie, ek wil dit dra.

Die merke op jou hande, jou vrese jou vrae.

Ek sal dit oppas, dit altyd bewaar.

Eendag met liefde aan my kinders oordra.

Liewe Madiba, jy sal van my hou.

Ek's lief vir my land en sy mense en sou

so graag wil kom kuier en net met jou praat.

Oor ditjies en datjies en goed uit my hart.

Gee my jou drome, ek wil dit sien.

Die prys so betaal om ander te dien.

Ek sal dit koester die wêreld sal weet.

Jou voorbeeld en liefde sal ons nooit vergeet.

Gee my jou ambag, ek wil dit leer.

Hoe ‘n leier en koning sy mense kan eer.

Ek sal dit beoefen, ek sal dit ken.

Dis teerheid en liefde wat ander kan wen.

Gee my jou drome, ek wil dit sien.

Die prys so betaal om ander te dien.

Ek sal dit koester, die wêreld sal weet.

Jou voorbeeld en liefde sal ons nooit vergeet.

Liewe Madiba, ek skryf die vir jou.

Ek weet daar's baie briefies soos my een aan jou.

Ons het nooit ontmoet nie, maar voordat jy groet.

Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet.

Wil ek jou iets vra, dis iets wat ek moet.

Uitgewer: Select Musiek, van Sarah se album Terug Na Jou