Die vlieëniers het eers waarskuwings van die vlugversterkingrekenaars af probeer hanteer voor hulle die rekenaars afgeskakel het, berig die nuusagentskap Bloomberg. Twee onbekende mense met kennis van die ondersoek word aangehaal.

Die rekenaars beheer gewoonlik die vliegtuig se rigtingsnoer en verhoed ook onder meer dat dit te veel lugspoed verloor.

Vlug QZ8501 was op 28 Desember van Soerabaja in Indonesië na Singapoer onderweg toe dit buitengewoon vinnig styg, staak en in die Javaanse See neerstort. Al 162 mense aan boord is dood.

Die afskakel van die rekenaar verklaar hoe die vlieëniers die gevaarlike styging kon probeer aanpak, maar nie waarom hulle dit sou wou doen nie, het die bronne volgens Bloomberg gesê.

Ondersoekers het Donderdag gesê die mede-vlieënier, ’n Franse burger met 2 275 vliegure, het die Airbus A320 gevlieg, terwyl die Indonesiese kaptein, met 20 537 vliegure – waarvan 6 100 by die lugredery – gemoniteer het.

Die stuurkajuit-stemopnemer toon die mede-vlieënier was sedert opstyging agter die stuur, ’n algemene praktyk, sê Mardjono Siswosuwarno, die hoofondersoeker van die nasionale vervoerveiligheidskomitee.