‘n Super(ou)Ma in ons Facebook-gemeenskap het ons gevra vir raad met haar vierjarige kleindogter wat ewe skielik baie anders begin optree het by haar skool. Die kleuter se ouers woon nie saam nie ons kenner vermoed dat skeidingsangs dalk ‘n rol in haar optrede speel.

“My kleindogter het by die kleuterskool in haar broekie begin mors en suig haar duim. Ek het dit by die huis ook ondervind en sy sê sy wil nie toilet toe gaan nie,” skryf die ouma. Sy verduidelik die dogtertjie bly om die beurt by elke ouer – een week en naweek by haar ma en een week en naweek by haar pa.

“Haar ma was onlangs twee weke lank weg – kan dit wees oor haar ma weg was, en is dit ’n gesonde situasie vir die kind om elke week by ’n ander ouer te bly?”

C.P. de Jager is ’n voorligtings- en opvoedkundige sielkundige in Vanderbijlpark en hy sê hierdie dogtertjie klink vir hom na ’n tipiese slagoffer van só 'n aparte verhouding tussen ouers waar hulle apart leef. “Sy het skeidingsangs en die feit dat haar ma twee weke lank weg was, maak haar waarskynlik onseker. Ons noem dié toestand enkoprese – die geleerde naam vir wanneer kinders weens skeidingsangs hul broekie vuilmaak. Dit is algemeen by jong kinders in sulke situasies.”

C.P. beveel aan dat al die lede van die familie haar baie liefde en aandag gee en glad nie raas wanneer sy haar duim suig of haarself vuilmaak nie.

“Werk op ’n diplomatiese manier met die kind, want sy is die slagoffer van hierdie situasie.  Dit is moeilik om te sê of dit ongesond is dat die kind een week by die ma bly en die ander week by die pa bly, maar die belangrikste is dat hierdie ma en pa verantwoordelik met mekaar optree om toekomstige probleme te verhoed.”

Die dogtertjie se kleuterskool het nou ook gereël dat sy ’n arbeidsterapeut sien om die probleem te help op te los.

- Dalena Theron

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.