‘n Ma vertel

Op ‘n weekmiddag gee Branden se ma hom dié opdragte: Haal jou kosblik uit jou tas, bêre jou skoene en gooi jou klere in die wasgoedmandjie. Ná 10 minute loer sy by sy kamer in en daar sit hy steeds in sy uniform. “Branden was altyd in die moeilikheid by die huis omdat ek gedink het hy luister nie. Ek sou sommer dadelik dink hy is net lui,” vertel sy ma, Annemarie Brooks van Pretoria.

Boonop het die toe sewejarige Branden dikwels swak gedragsrapporte by die skool gekry en sy maats het hom gespot omdat hy nie kon lees of spel nie. Aan die einde van gr. 2 is Branden se ma en pa, Phillip, in kennis gestel dat hy swak vaar: Hy ruil sy b’s en d’s om, hy kan nie spel nie, sy konsentrasie is baie swak en hy sukkel om links en regs van mekaar te onderskei. Hy sou gr. 2 moes herhaal. “Hy wou nie meer skool toe gaan nie,” sê Annemarie. “Hy het gesê hy wens hy was dood sodat hy nie meer so moet sukkel nie.”

Branden was nie lui nie. Hy het dieselfde probleem gehad as onder andere Orlando Bloom, Steven Spielberg, Keira Knightley en Jamie Oliver: Hy was dislekties. Dié diagnose het sy ouers aanvanklik ontstel, maar hulle het dadelik gaan hulp soek. Branden het vier weke lank ’n intensiewe kursus by Edublox in Pretoria geloop en daarna 10 maande lank een maal per week ’n uur lange klas bygewoon. Dié kursus het onder meer oefeninge ingesluit om sy konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke te help ontwikkel. Annemarie en Phillip het ook daaglikse oefeninge gekry om met hul seun te doen. Aan die einde van daardie jaar het sy punte merkwaardig verbeter. “Hy ruil nog syfers om en spelling bly ’n uitdaging, maar Branden, wat nou 11 word, het van ’n eensame kind in ’n gelukkige seun verander.”

Wat is disleksie?

“Disleksie is nie ’n gestremdheid nie; dit is bloot ’n onvermoë wat verband hou met die vaardighede wat lees en spel beïnvloed,” verduidelik Susan du Plessis van Edublox in Pretoria. Vaardighede soos konsentrasie en die vermoë om wat jy sien te interpreteer, waarop lees en spel gebou word, is nie behoorlik ontwikkel nie. Een uit elke 10 Suid-Afrikaners ly aan disleksie, wat beteken dat sowat 5 miljoen mense in skole en in die werkplek met dié leer- en leesprobleem sukkel.

Mense het lank verkeerdelik geglo die brein is onveranderlik en dat disleksie daarom ongeneeslik is. Hoewel daar nie ’n kuur is nie, kan iemand deur terapie geleer word om die probleem te oorkom. “As die oorsaak van die probleem aandag kry, kan disleksie oorkom word,” sê Susan.

Die oorsaak is dikwels ’n gebrekkige ouditiewe en visuele geheue, met ander woorde die kind sien of hoor die woord, maar sukkel om dit te onthou. Ouers kan maklike oefeninge met hul kinders doen om dié vaardighede te ontwikkel.

In uitsonderlike gevalle waar die agterstand baie groot is, kan dit help om ’n dislektiese kind in ’n spesiale klas of skool te sit. “Dit moet verkieslik net ’n tydelike maatreël wees tot die  leervaardighede, lees en spel op standaard is.”

Dis ’n wanopvatting dat dislektiese mense dom of lui is, en dié negatiewe stigma moet afgebreek word. “Die negatiewe etiket laat die kinders dikwels ’n slagoffermentaliteit aanneem, en hulle voel dan heeltemal hulpeloos,” verduidelik Susan.

Laat toets jou kind

Plaaslik is die diagnose van disleksie nou makliker danksy ’n nuwe toets wat Sandra Swart, ’n pediatriese optometris van Vereeniging, ontwikkel het saam met John Griffin, ’n oftalmologieprofessor aan die Marshall B. Ketchum-universiteit in Kalifornië. “Dit is die eerste gestandaardiseerde diagnostiese toets waarmee Suid-Afrikaners getoets kan word om die soort disleksie en die graad daarvan te bepaal,” sê sy. Enigiemand wat by die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika geregistreer is, mag die disleksietoetse uitvoer. Sy benadruk dit is belangrik om dit vroeg te diagnoseer. “ ’n Kind met disleksie kan sy volle potensiaal bereik, maar laat hom vroeg toets. Met terapeutiese programme kan hy leer hoe om om die probleem te werk.”

Tekens van disleksie

“Kinders met leerprobleme sukkel dikwels om te sien wat hulle lees,” sê Anel Annandale, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad. Net so is dit ook belangrik om te bepaal of daar nie ander faktore is wat ’n kind se vermoë om te leer, beïnvloed nie.

Die algemeenste tekens van disleksie is:

  • Omkerings. Kinders met disleksie ruil dikwels letters soos b en d om of skryf “rot” as “tor”.
  • Weglatings. ’n Kind sal byvoorbeeld “bom” lees of skryf pleks van “boom”.
  • Die kind lees huiwerig en hakkelrig en verloor dikwels sy plek in die teks.
  • Wanneer ’n kind letters van ’n woord in die verkeerde volgorde lees, byvoorbeeld “snik” pleks van “niks”.
  • Dislektiese kinders spel dikwels foneties, byvoorbeeld “sienkie” pleks van “seuntjie”.
  • Swak of baie stadige handskrif.
  • Iemand wat met swak begrip lees of min onthou van wat hy gelees het.
  • ’n Kind wat sukkel om opeenlopende aanwysings te volg, soos in Branden se geval.
  • Dislektiese kinders verwar dikwels links en regs, bo en onder.

Soorte disleksie

Daar is drie hoofsoorte disleksie, en vier bykomende soorte, wat elk ’n kombinasie van die drie hoofsoorte is:

  • Motoriese disleksie: Wanneer iemand letters en syfers omkeer en dus die spieëlbeeld van ’n letter skryf, byvoorbeeld b en d.
  • Fonetiese (ouditiewe) disleksie: Dit is die onvermoë om simbole en klanke met mekaar te vereenselwig, met ander woorde jy sien die woord, maar hoor nie die klanke daarvan in jou gedagtes nie.
  • Visuele disleksie: Jy sien ’n woord, maar kan dit nie onmiddellik verwerk nie. Hierdie soort disleksie is oorerflik.

Hulp vir ouers

Sodra disleksie by ’n kind gediagnoseer is, kan jy as ouer self die terapie behartig.

  • Gee net een opdrag op ’n slag. Moenie met hulle raas as hulle dit nie uitvoer nie. Herhaal dit eerder.
  • Lig die onderwyser in oor jou kind se leerprobleme.
  • Steun op jou kind se sterk punte. As hy byvoorbeeld visueel swak maar ouditief sterk is, lees sy werk vir hom voor.
  • Moenie sy skoolwerk namens hom doen nie. Al het hulle baie hulp nodig, moet hulle leer om selfstandig te werk.
  • Moenie moed verloor nie; disleksie is ’n onvermoë wat met die regte hulp net ’n tydelike probleem is.

Spesiale vergunnings by die skool moet die laaste opsie wees as al die ander opsies uitgeput is.

Oefen, oefen, oefen

  • Oefen sy geheue en sy begrip van ruimte.
  • Leer jou kind van kleins af sy liggaamsdele benoem: linkerhand en regterhand, linkervoet en regtervoet, ensovoorts.
  • Oefen aanhoudend links en regs. Dit moet elke dag oor en oor herhaal word sodat jou kind dit kan internaliseer.
  • Speel geheuespeletjies; dit kan so eenvoudig wees soos om speelgoed op ’n tafel te sit. Laat jou kind 10 sekondes lank daarna kyk. Maak die speelgoed toe en laat hulle dit opnoem.
  • Sê ’n woord, byvoorbeeld “boom”. Die kind sê “boom”. Sê nog ’n woord, byvoorbeeld “stoel”. Die kind sê dan “boom, stoel”. Voeg elke keer nog ’n woord by en die kind moet die hele string woorde herhaal.

Hulp vir onderwysers

Deel gerus ook hierdie wenke met jou kind se onderwyser:

  • Skep ’n positiewe leeromgewing waar kinders bemoedig word sodat elke kind ’n gevoel van sukses en selfwaarde ervaar.
  • As jy vermoed ’n leerder ly aan disleksie, praat so gou moontlik met die ouers.
  • Vergroot die spasiëring tussen letters en woorde op die bord en op werkvelle en vraestelle. Dit help dislektiese kinders om gemiddeld 20 persent vinniger te lees en hulle maak die helfte minder foute.

- Shané Barnard

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.