’n SuperMa in ons Facebook-gemeenskap het onlangs gesê haar vyfjarige het altyd graag gaan slaap met die ligte af, maar is skielik so bang vir die donker dat hy nie eers alleen in sy kamer wil wees nie en dring daarop aan om in sy suster se kamer te slaap.

Hoekom gebeur dit?

“Dit is normaal vir ’n kind om bang te wees vir die donker, monsters of spoke,” sê dr. Rinda Blom, ’n kinderterapeut van Bloemfontein. “Gelukkig raak hierdie vrees minder soos die kind ouer raak.

Tussen die ouderdom van sowat twee en ses “kan verbeeldings op loop gaan”. Al is dit meestal ’n goeie ding, kan dit jou kind ook oor ’n reeks dinge angstig maak. Dit is omdat kinders in hierdie stadium toenemend komplekse denkers begin raak.

’n Kleuterskoolkind sal byvoorbeeld bang wees vir die donker omdat hy dink daar is ’n monster onder sy bed, ’n sewejarige wat verstaan monsters bestaan nie, gaan bang wees dat ’n inbreker in die nag gaan kom en hom seermaak.

Kinders met ’n sensitiewe temperament is ook geneig om angstiger te raak. “Hierdie kinders gaan baiekeer vra ’n lig moet aangehou word weens iets wat deur die dag gebeur het en hom angstig laat voel,” sê Rinda.

Dit is belangrik dat ouers hul kinders hul vrese help hanteer deur hul gevoelens ernstig op te neem, hulle aan te moedig om oor hul angstigheid te praat, hulle die feite te gee en die geleentheid gee om hul vrese in hul eie tyd te konfronteer.

Wat jy daaraan kan doen

  • Luister en verstaan. Probeer jou kind se vrese verstaan. Moet dit nie afmaak of spot nie.
  • Verseker hulle met konkrete inligting. Dit is belangrik om jou kind te verseker as hull bang is. Dra die idee van veiligheid oor.
  • Beproef ’n kompromie. ’n Naglig kan ’n kind baie help. Probeer ook om hul kamerdeur op ’n skreef oop te hou met die ganglig aan.
  • Verander jou kind se verbeelding. Voer ’n soektog uit as jou kind oortuig is daar is ’n trol in die kas of ’n monster onder die bed. Jy kan ook ’n gunstelingspeelding as wag aanstel, of gee jou kind ’n gelukbringer wat monsters beveg en hulle weghou.
  • Verban TV-programme, flieks en boeke wat hulle bangmaak. Hou jou kind weg van hierdie goed wat dalk tot sy vrese kan bydra.
  • Hê pret in die donker. Maak die donker pret deur ’n fort te bou of met ’n flitslig te speel.
  • Loof dapperheid. Maak ’n groot ophef wanneer jou kind hul vrese konfronteer – ongeag hoe klein die stap, dis ’n stap in die regte rigting.

- Janine Nel

Bronne: parents.com, supernanny.co.uk

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.