Dit is ’n opwindende tyd vir die meeste paartjies wanneer hulle besluit om met ’n gesin te begin. Maar vir party ontaard dit in ’n hartverskeurende stryd. Om te verseker julle kom anderkant uit met jul verhouding ongeskonde, het ons kennersraad gevra by Kopano Mathabatha, ’n maatskaplike werker by die Gesinslewe-sentrum (Famsa) in Johannesburg, DJ Macpherson en Pearl Ramotsamai, beraders by Famsa se tak in Durban, en DRUM se mediese rubriekskrywer, dr. Nomteto Ogundipe, wat in Johannesburg praktiseer.

SO HANTEER JULLE DIT AS ’N PAARTJIE

1. Kommunikeer: Jy ken jou maat die beste; wag dus vir die regte tyd om die gesprek te begin, meen Kopano. “Probeer dit wanneer jou maat op hul ontvanklikste is. Dit moenie wees wanneer hulle sukkel by die werk of deur ander aktiwiteite besig gehou word nie. Maak seker julle het privaatheid en kan sonder onderbrekings praat.” DJ meen die beste is ’n holistiese benadering. “Praat met mekaar selfs voor julle berading of mediese hulp soek. Vra julle af hoe belangrik kinders vir julle is.”

2. Besluit hoe vêr julle wil gaan: Vrugbaarheidsbehandeling kan jul emosionele en finansiële reserwes uitput; julle sal mislukte behandelings of komplikasies, soos miskrame, moet hanteer. Dit kan stres en depressie veroorsaak. Party huwelike belang in die skeihof weens die las wat vrugbaarheidsbehandeling veroorsaak. Besluit vooraf op hoeveel behandelings julle wil ondergaan en hoeveel geld julle wil bestee.

3. Kry berading: As paartjie kan hulle baat vind by gesamentlike en individuele berading, sê DJ. “Onvrugbaarheid is ’n baie sensitiewe saak. Dit is veral belangrik om iemand te hê wat die manlike psige verstaan. Mans is baie trots en voel dikwels hulle het ’n beeld wat hulle moet voorhou. ’n Man kan ’n toetsuitslag soos ’n lae spermtelling as kritiek teen hom interpreteer en meen hy kan nie ‘presteer’ nie.” Sodra julle met mekaar gepraat het of berading gekry het, moet julle mekaar vra of julle dit gaan oorweeg om toeste te ondergaan wat kan aandui hoekom julle nie kinders kan hê nie.”

4. Vermy blaam: ’n Diagnose van vrugbaarheidsprobleme kan moeilik wees om te hanteer. Jou maat het dalk ’n lae spermtelling of jou fallopiese buise is verstop. Ieder geval is dit niemand se skuld nie en moet julle nie mekaar blameer nie. Verseker eerder jou maat dat julle hierdie probleem saam gaan aanpak. Deel jul gevoelens en help mekaar met die woede en frustrasie wat ’n gevolg van die diagnose kan wees.

5. Wees ’n span: Die vrugbaarheidsbehandeling kan sy eie newe-effekte hê, terwyl die teleurstelling van nie swanger raak nie hartverskeurend kan wees. Hanteer dit as ’n eenheid; beur jou maat op wanneer hulle neerslagtig is. Julle kan ’n pasgemaakte “pakket” ontwikkel, meen DJ. “Julle kan byvoorbeeld fokus op die romanse in jul verhouding; dit verminder die druk wat julle voel om sekere tye te ‘presteer’, soos wat jul mediese behandeling voorskryf.”

6. Vat ’n ruskans: Soms raak die vrou swanger sonder dat hulle probeer wanneer die paartjie besluit om ’n blaaskans van die behandeling te neem. Dokters skryf dit toe aan die verminderde stres tydens die ruskans; party paartjies het in so ’n tydperk natuurlik swanger geraak.

Besoek resolve.org vir nog wenke oor hoe om vriende en familie te hanteer.

- Vida Li Sik