’n Onderwyser is Vrydag 4 Julie in die suide van Frankryk voor haar laerskoolklas deur een van haar leerlinge se ma doodgesteek. Volgens berigte het die ma met ’n mes by die klaskamer opgedaag en die 34-jarige onderwyser daarmee vermoor.

Bevind jy jou dalk in ’n situasie waar jy kwaad is of gefrustreerd is met jou kind se onderwyser? Caréne Fourie, ’n gr. 4-onderwyseres aan die Laerskool Gene Louw in Durbanville, sê dit is uiters belangrik dat ouers en onderwysers as ’n span saamwerk om kinders op te voed.

“As ’n kind byvoorbeeld ongelukkig is oor ’n saak, volg dit self met die onderwyser op eerder as om die onderwyser by die huis sleg te sê en dadelik jou kind se kant te kies. Op dié manier sien jou kind jy respekteer die onderwyser en sal hulle ook makliker dieselfde houding teenoor hul onnie aanneem.”

Onderwysers van ons Facebook-gemeenskap Kopskuif-Onnies gee ook raad:

Moets

  • Volg die regte kanale, raai Annelise Boot aan, ’n departementshoof by die Laerskool Springvale in Centurion. Kontak eers die betrokke onderwyser en maak ’n afspraak om hulle te sien. As jy nie hier regkom nie, maak ’n afspraak met die graadvoog of vakhoof, dan die departementshoof, die adjunkhoof en laastens die skoolhoof.
  • Probeer oplossings vind en bespreek gesamentlike doelwitte wat julle wil bereik.
  • Wees voorbereid vir jou afspraak – maak notas oor kwessies wat jy wil bespreek.
  • Maak seker jy stel altyd jou kind se belange eerste, nie jou eie emosies nie.
  • Wees bereid om te aanvaar dat jou kind dalk die een is wat verkeerd opgetree het.
  • As julle nie tot ’n oplossing kan kom nie, moet julle die raad van ’n derde persoon inwin.

Moenies

  • Moet jou nie tot sosiale media wend nie. Probeer liewer die probleem uitstryk op ’n plek waar die onderwyser ook sy kant van die saak kan stel.
  • Moenie voor jou kind met die betrokke onderwyser in ’n bakleiery betrokke raak nie.
  • Moenie die onderwyser tuis voor jou kind slegsê nie.
  • Moet onder geen omstandighede geweld gebruik nie.

Onthou, onderwysers is ook maar net mense. As die probleem akademies van aard is, hou in gedagte dat onnies ’n hele klas vol leerders het. Party het individuele aandag nodig, iets wat nie altyd in die klas moontlik is nie.

“Identifiseer swak punte en gapings in vakke (veral wiskunde) en help dan self met huiswerk of ekstra oefeninge,” raai Caréne aan. “Onderwysers is altyd bereid om ekstra oefeninge te gee of te sê watter vakke ekstra aandag verg.”

- Shané Barnard

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.