Ekseem is ’n veltoestand wat 10 persent van alle mense raak. Dit is nie aansteeklik nie. Die algemeenste vorm is atopiese ekseem wat in allergiese mense voorkom. Dit gaan dikwels met asma en hooikoors gepaard. Die presiese oorsaak is onbekend, maar word toegeskryf aan ’n kombinasie van genetiese en omgewingsfaktore.

Ekseem word gekenmerk deur inflammasie van die vel. Die vel voel warm, droog en jeukerig. Soms kan blasies ontwikkel wat oopgaan en ontsteek. Veldroogheid en krap vererger die toestand.

Dit kan nie genees word nie, maar daar is verskeie maniere om dit te beheer.

Die belangrikste is om droogheid te beheer:

  • Vermy seep en ander irriterende chemikalieë.
  • Gebruik velwasmiddels wat nie uitdroog nie.
  • Gebruik ryker rome op droër veldele.
  • Gebruik rome gereeld, en so gou moontlik ná ’n bad of stort.

Kortisoonrome van verskillende sterktes word gebruik om inflammasie te beheer. Antihistamien verminder die jeukgevoel. Vel- en/of bloedtoetse kan help bepaal of daar allergiese reaksies is wat vermy kan word.

In ernstige gevalle waar groot dele van die liggaam betrek is, kan kortisooninspuitings of -pille help. Kortisoon in alle vorme moet versigtig gebruik word onder die toesig van ’n dokter.

Indien die vel tekens van infeksie toon, moet antibiotika gebruik word.