“Skuim! Ses jaar?!,” skryf Siobhan Reid van Engeland op The Guardian se Facebook-blad. “Is dit wat ’n lewe werd is? Hy sal oor ’n paar jaar uit wees en met sy lewe aangaan. Die lewe waarvan Reeva ontneem is.” Die nuus was onder die topstories in die meeste internasionale nuuswebtuistes en op sosiale media het mense hul mond behoorlik uitgespoel. Die Britse televisiepersoonlikheid Piers Morgan het op Twitter geskryf: “ ‘Gevalle held’? Probeer ‘woedende, vuurwapendraende maniak’. Die regter het opgetree soos ’n meisie wat ’n aanhanger is en daarvolgens gevonnis. Walglik.”

Die afgetrede Engelse krieketspeler Michael Vaughan was ook geskok. “Ses jaar vir moord,” het hy op Twitter geskryf. “Dit is ’n vreemde wêreld waarin ons op die oomblik leef.”

David McKenzie, CNN-korrespondent in Pretoria, sê die vonnis is baie ligter as wat verwag is. “Beslis baie van die kenners met wie ek gepraat het, reken so.”

In ’n videogreep verduidelik hy regter Thokozile Masipa het in die vonnisoplegging gesê sy het die nodige diskresie en dit word nie vereis om by die 15 jaar minimum tronkstraf te hou nie.

Op CNN News se Facebook-blad het Niall FitzGerald geskryf: “Ses jaar! Skandalige besluit. Ek sal geld wed dat indien hy ’n ‘gewone’ Suid-Afrikaner was in dieselfde omstandighede, hy minstens 15 jaar sou kry.”

Ericka Manny het saamgestem en gesê: “Die regter het Oscar duidelik begunstig. Sy het haar bes gedoen om hom so min moontlik tronkstraf te gee. Dit moes lewenslank gewees het!”

BBC het ook die nuus aangekondig met die opskrif: Oscar Pistorius is tot ses jaar tronkstraf gevonnis – minder as die 15 jaar minimum – vir moord op sy meisie, Reeva Steenkamp.

Ook op hul Facebook-blad het mense hulle sterk uitgespreek teen die “ligte vonnis’. “Walglik,” skryf Paula Michelle Robins. “Oor drie jaar sal hy in aanmerking kom vir parool. Die regter het duidelik sy kant gekies. Voel jammer vir die slagoffer se familie.”

Sam Slater skryf op ITV News, die agentskap waarop Oscar onlangs sy eerste onderhoud ná die tragedie toegestaan het: “Ses jaar is ’n grap. Hy moes lewenslank gekry het. My hart breek vir Reeva se ouers en familie; kan nie dink wat hulle voel en waardeur hulle nou moet gaan nie.”

Op The Guardian se Facebook-blad het mense ook hul ontevredenheid laat hoor. “Dit is hoeveel ’n jong vrou se lewe in Suid-Afrika werd is,” skryf Andy Mannion.

Ook plaaslike bekendes en mense na aan Oscar het van hulle op Twitter laat hoor: Karen Zoid: “Ses jaar?! Wees versigtig daar buite, meisies. Ons lewe lyk goedkoop onder die fluorescent ligte van die hof.”
Oscar se broer, Carl Pistorius: “Die ware feite is gestel en gereg het geskied. Die waarheid sal altyd seëvier.”
Voor die hofsaak het hy ook getwiet: “Ek het die grootste respek vir regter Masipa; sy is ’n merkwaardige vrou.”
Reeva se vriendin Kim Myers: “Vyf jaar vir strafbare manslag. Ses vir moord.” #5forCulp6forMurder
Die televisieaanbieder Maps Maponyane: “Ek is baie seker die wêreld lag baie hard vir ons regstelsel vandag.”
Die televisiepersoonlikheid Boity Thulo: “Oscar is gevonnis tot wit bevoorregte jare in die tronk. Arme ou.”
Die radio-omroeper en aktrise Thando Thabooty: “Net ses jaar? Kom nou!”