Paul het baie van sy deel van Fast and Furious 7 afgehandel voor hy in November op 40-jarige ouderdom in ’n motorongeluk in Kalifornië omgekom het. Sy broers, Caleb en Cody, sal namens hom die rolprent voltooi. Dit word volgende jaar uitgereik. Paul het die rol vertolk van Brian O’Conner, ’n geheime federale agent.

'Ons familie het in November ’n ondenkbare skok ervaar.'

“Ons familie het in November ’n ondenkbare skok ervaar. Ons moes eers rou oor Paul, die broer wat ons liefgehad en verloor het, en uitpluis of ons met die rolprent moet voortgaan,” lui ’n verklaring op die rolprent se Facebook-blad.

“Ons het bymekaargekom en almal het gevoel die enigste keuse is om voort te gaan. Ons glo ons aanhangers wil dit hê, en ons glo Paul sou dit ook wou gehad het. Paul het reeds sy dramatiese tonele en die meeste van sy aksietonele vir Fast and Furious 7 geskiet, en dit is van die kragtigste werk van sy loopbaan.”

Hulle het bygevoeg: “Ons het weer begin skiet en verwelkom nou Paul se broers, Caleb en Cody, in ons Fast-familie. Caleb en Cody help ons om van die oorblywende tonele vir hul broer te voltooi en klein gapings te vul wat in die produksie oor is. Om hulle op die stel te hê laat ons almal voel Paul is ook by ons.”

In Januarie het lykskouers gesê die motor waarin Paul en sy vriend Roger Rodas gery het, het teen meer as 160 km/h voortgesnel toe hulle in Santa Clarita noord van Los Angeles verongeluk het. Hulle het daar ’n liefdadigheidsgeleentheid bygewoon. Roger het die motor bestuur.

Brian O'Conner

Die eerste Fast and Furious-rolprent het in 2001 verskyn. Die reeks, met sy fokus op vinnige motors, tawwe ouens, sexy sterretjies en eksotiese plekke, is een van Hollywood se suksesvolste wêreldwye franchises.

Ná Paul se dood het die ateljee-reus Universal verfilming opgeskort en die uitreiking van die rolprent uitgestel.

Dit sou oorspronklik later vanjaar uitgereik word. Die rolprent sal nou op 10 April volgende jaar in Amerika uitgereik word. “Ons is net ’n jaar weg daarvan om Fast and Furious 7 uit te reik en die rolprent is die belangrikste ding wat ons nog saam gedoen het,” het die rolprentmakers gesê.

“Dit sal die karakter van Brian O’Conner laat voortleef en ons Paul in sy bepalendste rol laat vier.”

- Sapa