Onder omstandighede gaan dit goed met Oscar Pistorius ná hy Donderdagaand in die Kalafong-hospitaal in Atteridgeville in Pretoria oorgeplaas is, sê sy pa, Henke Pistorius.

Dít kom nadat die voormalige Paralimpiese atleet Donderdag in die Atteridgeville-tronk borspyne begin kry het.

Henke het aan Huisgenoot gesê Oscar het vroeër ’n “slegte verkoue” gehad en dit was nie duidelik of dié ’n rede vir die erge borspyne was nie.

Verskeie toetse is sedert Donderdag op Oscar gedoen en “al die toetse was negatief”, sê Henke.

Oscar dien tronkstraf uit na hy ’n vonnis van ses jaar opgelê is vir die moord op sy modelmeisie, Reeva Steenkamp.

Hy het op 6 Julie vanjaar reeds ’n jaar gevangenisstraf uitgedien.