Die slagoffer van ’n skokkende tref-en-trap-voorval in Johannesburg het dit nie net wonderbaarlik oorleef nie; sy is reeds dieselfde dag uit die hospitaal ontslaan.

So bevestig Lungi Nglovo, skakelbeampte van die Akademiese Hospitaal Charlotte Maxeke in die Goudstad, waarheen die vrou ná die voorval gehaas is.

Die vrou, wie se naam nog nie bekend is nie, het saam met ’n tweede onbekende vrou oor ’n pad in Newlands, Johannesburg, gestap toe ’n wit bakkie haar teen ’n aansienlike spoed tref en ’n ent ver sleep.

Die hele voorval is ook op kringtelevisie vasgelê. Dié video is vroeër op YouTube gelaai en het die internet behoorlik laat gons. Die ongeluk het glo net voor 14:00 gebeur op 15 November op die die hoek van Breë- en Gerard Sekoto-straat.

Die vrou is op die toneel deur paramedici behandel en na die hospitaal geneem. Die wit bakkie het die hasepad gekies en van die toneel af weggejaag.

Wayne Minnaar, woordvoerder van die Johannesburgse metropolisie, het aan Huisgenoot gesê dit is baie belangrik dat motoriste nooit van ’n ongelukstoneel af vlug nie.

“Moet nooit van ’n toneel af wegjaag nie,” waarsku Wayne. “Daar is altyd iemand wat sien wat gebeur en die inligting aan die polisie deurgee. Ten einde laaste sal hulle in die hof verskyn.”

WAARSKUWING: DIE GRAFIESE VIDEO MAG SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL.