Schumacher, 44, wat sy kop teen ’n rots gekap het terwyl hy in die Franse Alpe geski het, se familie is by die hospitaal waar by behandel word. Hy word môre 45.

“Tans is sy toestand bestendig,” het Sabine Kehm, sy mediabeampte, gister buite die hospitaal aan joernaliste gesê.

Die besering is aanvanklik beskryf as ernstig, maar nie lewensbedreigend nie nadat Schumacher by die luukse Meribel-oord beseer is. Kort daarna het sy toestand drasties verswak. Teen Sondagaand was hy kritiek en is ’n noodoperasie uitgevoer.

’n Tweede operasie is Dinsdag gedoen om bloeding op sy brein te verlig.

“Ons kan nog nie oor die toekoms bespiegel nie,” het dr. Jean-Francois Payen, hoof van die intensiewe sorgeenheid, gesê. “Ons kan nog nie sê of hy buite gevaar is nie, maar ons het tyd gewen.”

Dokters wou hom ook nog nie na ’n ander hospitaal oorplaas nie omdat dit te gevaarlik is.

Hy is in die medies-geïnduseerde koma geplaas om sy herstel te bespoedig en sy liggaamstemperatuur is na 35?°C verlaag om swelling te verminder.

Dit is steeds onseker presies hoe die ongeluk gebeur het. Hy het het saam met sy seun Mick (14) en ’n groepie vriende geski toe die ongeluk gebeur het. Kehm het gesê volgens hulle het hy nie vinnig of onverskillig geski nie.

- Sapa