Die sakeman en sy dogter wat Dinsdag tydens ’n skietery in ’n gewilde kroeg in die ooste van Pretoria gewond is, is in ’n stabiele toestand in die hospitaal.

André de Almeida (48) en sy dogter, Claudia (21), was die oggend in hul onderneming, Schivas Rock, se kombuis toe twee gewapende mans die kuierplek binnestorm.

André is in die linkerbors getref en Claudia in die gesig geskiet. Volgens Graeme Clayton, bestuurder van die kuierplek, is daar nog nie duidelikheid oor wat die motief was nie.

“Daar is niks gevat nie, maar ons vermoed dit was ’n rooftog wat skeefloop het,” sê hy. Volgens hom is André en sy dogter albei in ’n stabiele toestand.

“Die skoot wat Claudia getref het, het geen slagare en senuwees in haar gesig en nek getref nie. Hulle is albei onder verdowing, maar die prognose is goed,” sê hy.

Intussen ondersoek Brooklyn se polisie twee sake van poging tot moord.