Albert Buitenhuis, die sjef wat die afgelope jaar werkloos in Pretoria gesit en op aalmoese oorleef het, kan nou eindelik weer sy passie agter die kospotte uitleef.

En dit boonop in die skilderagtige omgewing van Wellington in die Boland by die bekende restaurant en padstal, Bistro 44.

[caption id="attachment_149777" align="alignnone" width="601"]Van Albert se spesialis-geregte sluit in Waterblombredie en Eisbein. Foto: Verskaf Van Albert se spesialis-geregte sluit in Waterblombredie en Eisbein. Foto: Verskaf[/caption]

Albert (54) het in Desember verlede jaar wêreldwyd koerantopskrifte gehaal toe die owerheid in Nieu-Seeland hom uit die land skop.

Die rede? Albert is te vet om langer daar te mag werk, was die immigrasiedepartement se mening nadat Albert agt jaar lank by verskillende eetplekke in Kiwiland as sjef gewerk het. Omdat hy die skaal op sowat 130 kg getrek het, het hy ook sommer gou die bynaam die Vet Sjef gekry.

[caption id="attachment_149780" align="alignnone" width="600"]Albert en sy vrou, Marthie, moes Nieu-Seeland in Desember 2015 verlaat. Foto: Verskaf Albert en sy vrou, Marthie, moes Nieu-Seeland in Desember 2015 verlaat. Foto: Verskaf[/caption]

Albert verduidelik die rede vir die afkeur van sy werkvisum in 2013 was oor sy gewig.

“In 2015 het hulle egter daardie onderwerp met groot omsigtigheid vermy. Hulle het toe as rede aangevoer dat my destydse werkgewer nie genoegsaam geadverteer het om Kiwi’s te lok nie, hoewel sy bewyse gestuur het dat sy twee jaar lank onsuksesvol geadverteer het. Die ander rede was dat ek van werkgewer verander het sonder hul toestemming, maar ek het werklik nie geweet dit was ’n oortreding nie.”

Maar in Desember 2015 moes hy en sy vrou, Marthie (51), hul goed vat en trek.

Terug in sy moederland het dit ook nie veel beter gegaan nie. Hulle het by familie in Pretoria gaan bly.

“Ons was moeg, platsak en op moedverloor se vlakte,” beskryf Albert hul emosies van die afgelope jaar. Hy het probeer om verskillende kos-souse van sy aanlyn blog te verkoop, maar die onderneming wou ook nie lekker posvat nie.

Maar verlede maand het die geluksgodin haar oor die Buitenhuise ontferm en Albert is terug in sy element waar hy nou as kok by Bistro 44 in die Boland werk.

“Dit is ’n bekende padstal en restaurant hier op die R44-roete naby Wellington,” verduidelik hy. Die eienaar is Martyn van Blommestein, die voormalige rugbyspeler wat tussen 1978 en 1981 vir Boland, die WP en die Junior Bokke uitgedraf het.

“Maar die storie oor hoe ek die werk gekry het, klink soos ’n fairytale,” vertel Albert, nou weer met ’n vrolike klank in sy stem.

Die storie loop so: Toe Martyn drie maande gelede na ’n kok begin soek, het hy die artikels van die werklose Vet Sjef onthou wat hy ’n jaar gelede in die media gelees het. Dit sou die ideale kandidaat wees, het Martyn toe gedink.

[caption id="attachment_149782" align="alignnone" width="605"]So lyk 'n gedeelte van Albert se spyskaart. Foto: Verskaf So lyk 'n gedeelte van Albert se spyskaart. Foto: Verskaf[/caption]

Die enigste probleem was net dat hy geen idee gehad het waar om Albert op te spoor nie. Martyn adverteer toe die vakature in die Kaapse koerant Die Burger, maar daar sou ook geen manier wees dat Albert, wat in die Noorde bly, die advertensie kon sien nie.

’n Vriendin van die Buitenhuise wat in die Wes-Kaap woon, Rina Kleinhans, het dit egter raak gelees en Albert van die betrekking laat weet.

Toe Albert vir Martyn bel en homself voorstel, sê Martyn: “Ek sit en dink heeltyd aan jou!”

Kort daarna het Albert agter die kospotte van die Bistro 44 ingeval.

Maar oor sy gewig wil die Vet Sjef nie eintlik praat nie, sê hy. “Jong, ek is nou al weer daar in die omgewing van 150 kg rond. Die afgelope jaar van armoede en net brood eet het sy tol geëis!”

[caption id="attachment_149783" align="alignnone" width="600"]Albert trek die skaal nou weer op 150 kg. Foto: Verskaf Albert trek die skaal nou weer op 150 kg. Foto: Verskaf[/caption]

Hy kla ’n mens sit mos sommer vinnig gewig aan “as jy net sit en niks doen”.

[caption id="attachment_149775" align="alignnone" width="600"]So lyk Albert se Banting Burger. Foto: Verskaf So lyk Albert se Banting Burger. Foto: Verskaf[/caption]

KITSRESEP

Albert deel sy resep vir ’n Banting-burger met lesers (sien foto):

• Die burger bestaan uit (van onder): Pangebraaide eiervrug, slaai, tamatie, 180 g skoon beesvleiskoekie, gebraaide uie, twee repies gebraaide spek, met nog ’n skyf eiervrug

• Rond af met fetakaas bo-op.

• Sit voor saam met ’n tuinvars-kantslaai.