Die seuntjie wat wonderbaarlik oorleef en geen permanente skade opgedoen het nadat hy van ’n muur tot in ’n staalpyp geval het, word vandag (Maandag) uit die hospitaal ontslaan.

“Dit is absoluut ’n wonderwerk,” sê pa Rudi Terry van Waverley in die Moot. “Ons is so dankbaar.”

Rudi vertel dat klein Gideon wat Donderdag tien jaar oud word saam met sy ma, Zani, en jonger sussie Zané by sy skoonma, Annemarie van Tonder, in die ooste van Pretoria gekuier het.

Gideon en Zané speel graag met die buurdogtertjie in die agterplaas wanneer hulle daar kom, maar Donderdagaand was hulle voor in die erf op die muur.

“Hulle weet hulle mag nie daar kom nie en toe hulle die voordeur hoor oopgaan het hy van die muur afgespring en in die staalpyp te lande gekom wat in die grond geplant was om ’n klein boompie regop te hou.”

Die pyp is by sy bo-been in, deur sy bekken, langs sy ruggraat verby tot dit net onder sy vel by sy blad tot stilstand gekom het.

“Sy sussietjie het alles sien gebeur en sy het vreeslik geskree.”

Zani en Annemarie het instinktief opgetree en hom van die pyp afgehaal om hom hospitaal toe te neem. Daar het dokters vasgestel dat die pyp sy kolon wonderbaarlik met millimeters gemis het, asook al die belangrike bloedvate en organe.

“Dit lyk of die pyp ’n klein gaatjie in sy bekken gemaak het, amper soos wat ’n boor sou doen.”

Rudi sê Gidoen het later vertel dat hy aanvanklik nie eens besef het dat die pyp deur sy lyf is nie en dat hy gedink het dit het net deur sy broek en t-hemp gesteek.

Rudi wat vir die verkeersowerheid werk was ten tye van die ongeluk by ’n kongres in Durban en moes inderhaas huis toe vlieg om by sy gesin te wees.

“Hy was aanvanklik op en af en het in die aande nagmerries gekry, maar van Sondagmiddag se kant af het dinge begin beter gaan.”

Hy sukkel nog op die oomblik om te loop, maar die dokter meen dat hy binne die volgende drie maande volkome sal herstel.