Evette het vanoggend vir die eerste keer sedert sy operasie met Marius gepraat. Die akteur is onder meer bekend vir sy rolle in TV-reekse soos Fluiters en Vloeksteen en rolprente soos Twee Grade van Moord en The Gods Must Be Crazy.

Marius se hartklep is in ’n operasie van sowat vyf uur by die Busamed Paardevlei Private Hospitaal in Somerset-Wes vervang. Volgens sy vrou het hy nog steeds sy humor behou deur alles.

"Hy't nog gesê dis of ’n sintetiese klep of ’n varkie se klep, "vertel Evette vir ons vanaf hul huis in Rooiels.

Hy't op ’n plaas grootgeword waar hulle met osse geboer en ploeg het. Hy het grootgeword met al daai diere so hy is heeltemal tevrede om ’n varkie se klep te hê," het hy geskerts, vertel sy. 

Marius is nog onder sterk verdowing. Sy gaan hom vanmiddag vir die eerste keer besoek. ’n Vriendin gaan haar hospitaal toe neem. "Dis so wonderlik hoe mense mekaar help hier in Rooiels en die samehorigheid van die klein dorpie. Almal het gesê hoe hulle beurte gaan maak om my by Marius te kry," vertel sy. 

"Ek weet nog nie wanneer hy ontslaan gaan word nie. Ek is ’n optimis en hoop dis gou," vertel Evette.