Dokters wat die oud-president Nelson Mandela behandel, het ontken dat hy in 'n vegetatiewe toestand is, berig Nuus24.

Mac Maharaj, presidensiële woordvoerder, het Donderdagmiddag in 'n verklaring gesê pres. Jacob Zuma het Mandela in die hospitaal besoek en dat die voormalige staatshoof steeds in 'n kritieke, maar stabiele toestand is.

Die presidensie het die verklaring uitgereik nadat daar in hofdokumente aangevoer is dat Mandela in 'n "permanente vegetatiewe toestand is" en dat sy familie aangeraai is om die masjiene wat hom aan die lewe hou, af te skakel.

Volgens Nuus24 het Sapa ’n sertifikaat van dringendheid bekom wat adv. David Smith, regsverteenwoordiger van 16 Mandela-familie­lede, in hul saak teen Madiba se kleinseun Mandla ingedien het.

Smith het geskryf: “Ek is deur my opdraggewende prokureur ingelig dat mnr. Nelson Mandela se gesondheid erg verswak het en dat die Mandela-familie deur die mediese praktisyns geadviseer is dat sy lewensondersteuningsapparaat afgeskakel behoort te word.

“Eerder as om sy lyding uit te rek, ondersoek die Mandela-familie dié opsie as ’n baie werklike waarskynlikheid.”

Smith het Madiba se gesondheid as “in lewensgevaar” beskryf.

“Die verwagting van sy dreigende dood is op werklike en substansiële gronde gegrond.”

'n Latere weergawe van die dokument wat by die hof ingedien is, het paragrawe weggelaat wat verband hou met Mandela se "vegatiewe toestand" en dié van dokters se raad om die masjiene af te skakel.

Nuus24