Foto: Dave Hogan/Getty Images/Gallo Images

Oudpres. Nelson Mandela is steeds in 'n kritieke toestand in 'n hospitaal in Pretoria, het pres. Jacob Zuma Maandagoggend tydens 'n mediakonferensie in Parktown, Johannesburg gesê.

"Die dokters doen alles in hulle vermoë om sy welstand en gemak te verseker," het Zuma gesê.

"Ek dink nie ek is in 'n posisie om verdere besonderhede te gee nie," het hy gesê.

Zuma het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) toegespreek.

Die presidensiële woordvoerder, Mac Maharaj, het gister in ’n amptelike verklaring gesê het Madiba se toestand het sedert Saterdag baie verswak.

Maharaj se aankondiging het gekom nadat pres. Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa, die adjunkpresident van die ANC, Madiba in die Mediclinic Harthospitaal in Pretoria besoek het. Zuma en Ramaphosa het glo ook met Madiba se vrou, Graça Machel, gepraat.

Zuma het die land gevra om steeds vir Madiba en sy mediese span te bid.

Joernaliste het Sondagaand nog voor die hospitaal op nuus gewag, maar teen middernag was daar min van hulle oor. Net enkeles het deurnag gewag. Teen vroegoggend het die nuusspanne weer voor die hospitaal begin saamdrom.

Bronne: Sapa & Nuus24