Louis van Wyk, Kurt se bestuurder, sê hy kan hom net indink hoe ’n tranedal dit vanoggend in die Milpark-hospitaal in Johannesburg was toe Dunay Kurt sien. Hy is van die waakeenheid na die ho?sorgeenheid oorgeplaas.

“Terwyl sy in die vreemde was, het ons Dunay net vertel Kurt het agt ribbebene gebreek. Ons het nie die fynere besonderhede vertel van sy beserings, hoe hy met ’n oogklap lyk en dat hy ’n suurstofmasker gebruik wanneer hy sukkel om asem te haal nie,” sê Louis.

Dunay het vanoggend omstreeks 11:00 in Suid-Afrika aangekom nadat sy van Athene in Griekeland via Doebai na die OR Tambo-lughawe in Johannesburg gevlieg het. Op Twitter het sy vertel hoe hulpeloos sy gevoel het; sy het in die lughawe in Athene uit pure frustrasie in trane uitgebars.

Volgens Louis gaan dit al baie beter met Kurt. Hy het nog baie pyn en sukkel soms om asem te haal, maar het altyd ’n suurstofmasker byderhand. Dit is nog nie bekend wanneer hy ontslaan sal word nie.

Kurt en twee vriende, Marnus Bisschoff en Nadia van Rensburg, was Saterdagaand op die Kameelfontein-pad buite Pretoria in ’n ongeluk nadat hul voertuig in ’n rivierbedding beland het.

Marnus sê sy rug is nog seer, maar dit gaan elke dag beter. Nadia, wat haar regterbeen gebreek het, is ook steeds in die hospitaal. Dit is ook nie bekend wanneer hulle ontslaan gaan word nie.

- Hilda Fourie Besoek ook: Foto's van Kurt se ongeluk Foto's van Kurt Darren Foto's van Kurt en Dunay se troudag