Die oud-Springbok Joost van der Westhuizen het Sondag aangekondig hy is op pad Amerika toe vir kliniese toetse in verband met sy motorneuronsiekte (MNS).

“Hulle het gesê ek sal ná ’n jaar in ’n rolstoel wees. Hulle het gesê ek het ’n 20 persent kans om twee jaar te leef. En ek het besluit, hulle kan gaan vlieg. Ek sal besluit wanneer ek gaan,” het Joost in ’n verklaring gesê.

Amiotrofiese laterale sklerose (ALS), ’n aggressiewe vorm van MNS, is in 2011 by Joost gediagnoseer.

Joost sal deelneem aan kliniese studies in ’n hospitaal in Boston, Massachusetts. Die hospitaal se hoof van neurologie, dr. Merit Cudowicz, doen navorsing oor die siekte.

Die oudrugbyspeler sal ook die Eleanor and Lou Gehrig-sentrum in New York besoek. Die sentrum doen navorsing oor die siektes en verskaf kliniese ondersteuning aan MNS/ALS-lyers.

Joost het gesê hy sou graag ’n soortgelyke instelling in Suid-Afrika wil vestig.

Joost het reeds die J9-stigting op die been gebring vir ander lyers aan die siekte.

“Aan die begin beleef jy al die emosies en jy vra: Hoekom ek? Dis heeltemal eenvoudig: Waarom nie? As ek dit moet beleef om toekomstige generasies te help, hoekom nie ek nie?” het hy gesê.

- SAPA

Spesiale app oor Joost van der Westhuizen

Dié verrykte digitale tydskrif in vyf hoofstukke bied aangrypende leesstof, videogrepe en meer as 500 foto’s, plus al die artikels wat met die jare in Huisgenoot en YOU verskyn het oor dié skrumskakel. Dis ’n nostalgiese tydreis.

Om dit in die Apple iTunes-winkel af te laai - KLIK HIER