Giverny Lugard (18), of Gigi, soos sy genoem word, se pa, Edward, sê sy het drie gekraakte rugwerwels, ’n gebreekte rib en bloeding op die long opgedoen, maar gaan herstel. Sy het ook ’n “bietjie” bloeding op die brein.

“Enigiets kan gebeur, maar alles is onder beheer,” het hy gesê. “Sy is op die oomblik in ’n geïnduseerde koma in die Milpark-hospitaal in Johannesburg om haar toestand stabiel te hou.”

Gigi het Sondagoggend aan streeksuitdunne vir nasionale kampioenskapsbyeenkoms later vanjaar deelgeneem. Dis by die Fourways-rysentrum in Centurion gehou. Haar perd het gestruikel, op haar geval en oor haar gerol. Haar helm is in die voorval gekraak. Gigi is met die lugambulans na die hospitaal geneem.

Edward het die sport as die “mooiste ter wêreld beskryf” en gesê al vier sy kinders is ruiters. “Ons weet dit (sulke voorvalle) is deel daarvan,” het hy gesê.