Klein Larochelle is Woensdag (31 Mei) in die intensiewesorgeenheid van die Universitas Akademiese hospitaal in Bloemfontein opgeneem nadat sy in ’n koma verval het.

Larochelle, wat al byna twee jaar vir ’n dringende nieroorplanting wag nadat met erge nierversaking gediagnoseer is, het slegs 5% nierfunksie oor.

Lisa Steenberg, Larochelle se ma, wat nou elke dag langs haar kind se siekbed waak, het telefonies aan Huisgenoot vertel haar dogter slaap nie in die nag nie.

“Haar bene is rusteloos en pyn,” het Lisa verduidelik. Daarom het Lisa Dinsdag (30 Mei) vir haar ’n voorgeskrewe spierverslapper vir die pyn gegee.

“Ek wou haar net help beter voel”. Daardie aand het Larochelle skaars ’n happie van die kos gevat en toe gesê: “Mamma ek is moeg, ek wil gaan lê”.

Toe Lisa haar later wou gaan roep vir haar dialise-behandeling, wat sy vier keer per dag self vir haar dogter toedien, het sy agtergekom dat sy reeds slaap. “Omdat sy die vorige twee aande sleg geslaap het, het ons haar gelos om te slaap”.

Klein Larochelle is Woensdag in die intensiewesorgeenheid van die Universitas Akademiese hospitaal in Bloemfontein opgeneem nadat sy in ’n koma verval het.

Lisa het daardie aand Larochelle se dokter gebel om seker te maak of dit die pille is wat haar so lomerig maak. Hy het gesê dit is normaal.

Die volgende oggend het sy opgemerk dat Larochelle snaaks asemhaal en sy het haar bed vuilgemaak. “Ek het baie groot geskrik want ek het toe geweet dat iets fout is.” Sy het dadelik die nooddienste en Larochelle se dokter gebel. Die dokter het Lisa aangeraai om haar hospitaal toe te neem.

Lisa het met Larochelle na die Universitas-Akademiese Hospitaal in Bloemfontein gejaag omdat sy hier die beste behandeling sou kry.

Hulle het haar hier dadelik in die intensiewesorgeenheid opgeneem.

“Ons is baie bekommerd oor haar omdat ons weet sy het dringend ’n nieroorplanting nodig”.

Lisa het vroeër roerend aan Huisgenoot vertel sy weet nie wat sy sal doen as haar kind moet sterf nie en dat hulle haar dan maar eerder in die “malhuis” kan opneem. Hulle trek ook finansieel swaar.

Larochelle het laat Vrydagmiddag (2 Junie) vir die eerste keer weer reaksie getoon nadat sy vir sowat drie dae lank in ’n koma was.

Lisa vertel hulle het haar egter weer onder verdowing in ’n geïnduseerde koma geplaas omdat hulle bang is dat sy van die toerusting wat aan haar gekoppel is sal uitruk.

Larochelle was voor haar diagnose in 2015 vir ’n geruime tyd siek, maar dokters kon nie vasstel wat haar makeer nie. “Selfs haar mangels is uitgehaal, maar dit het nie gehelp nie.”

Lisa sal na verwagting op 7 Junie na die Charlotte Maxeke- akademiese hospitaal in Johannesburg gaan waar sy hopelik ’n datum vir Larochelle se nieroorplanting hier sal kan vasstel. Dit is reeds bepaal dat Lisa ’n geskikte skenker vir haar dogter is.

Larochelle sal egter nie nou dadelik ’n nieroorplanting operasie kan ondergaan nie, omdat sy nog te swak is.

“Ons is nog nie presies seker wat vir ons voorlê nie.”

Enigiemand wat die Steenberg-gesin wil help of bystaan, kan die Facebook-groep Gebeds groepie spesiaal vir Larochelle besoek.