“Carl het tydens die ongeluk veelvuldige beserings opgedoen,” het die familie se woordvoerder, Anneliese Burgess, in ’n verklaring gesê.

“Dit sluit in skeurwonde aan sy hart en lewer en hy het ook asemhalingsversaking ondergaan.”

Hy is verlede week uit die hoësorgeenheid ontslaan, maar gaan die volgende twee weke in die hospitaal bly om nog operasies te ondergaan. Hy sal dan na ’n rehabilitasiesentrum verwys word om sy mobiliteit terug te kry, het Anneliese gesê.

Sy het gesê Carl is dankbaar vir die ondersteuning wat hy ontvang het van sy familie, vriende en die publiek.

Die ongeluk het vroeër vandeesmaand buite Modimolle gebeur toe Carl se motor trompop met ’n ander gebots het.

Hy moes meganies uit die wrak bevry word voor hy en die bestuurder van die ander voertuig na die hospitaal gebring is. Albei is ernstig beseer. Twee passasiers in sy motor was ongedeerd.

In Mei verlede jaar het Vanderbijlpark se landdroshof Carl vrygespreek op ’n aanklag van strafbare manslag.

Die hof het hom ook vrygespreek op die aanklagte van roekelose of nalatige bestuur en bestuur sonder redelike inagneming van ’n ander persoon op die pad. Hy het onskuldig gepleit op al die aanklagte.

Sy bakkie het op 8 Maart 2008 met Maria Barnard se motorfiets gebots. Sy is ’n paar dae later in die hospitaal oorlede.

Oscar Pistorius word deur moordaanklagte in die gesig gestaar nadat hy sy meisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar in sy huis in Pretoria doodgeskiet het.

Hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien wat hom sou aanval en het haar per ongeluk deur die geslote toiletdeur raakgeskiet. Die staat beweer hy het haar tydens ’n rusie geskiet.

’n Beslissing in die saak word op 11 September verwag.