“Ek is vrek bevoorreg om die hoofrol te speel van Josef. Dit is ’n hedendaagse storie wat gebaseer is op die lewensverhaal van Josef.

Ek’s bitter opgewonde en ek glo dat dit ’n great produksie gaan wees,” skryf die sanger op sy Facebook-blad.

Van 5 April tot 4 Mei in die Staatsteater in Pretoria sal aanhangers Bobby weer in ’n blyspel kan sien. Hy het verlede jaar gespeel teenoor Liza Brönner in Liefling, die Musiekblyspel.

En soos sus Karlien op Facebook tereg vra: “Dames, gaan julle harte dit hou?”

Intussen gaan hy eers op Sondag 9 Maart die Cape Argus Pick n Pay fietstoer aanpak, ’n volle 109 km. “Ek is opgewonde dat ek dit doen om geld in te samel vir ’n liefdadigheidsorganisasie wat dit baie nodig het!” het hy op Facebook laat hoor.

“Dit is ’n hartseer realiteit dat honderde kinders in Suid Afrika gediagnoseer word met lewensgevaarlike vorme van kanker elke maand.

’n Klein persentasie van die kinders het ouers of ’n mediese fonds wat help met die betaling van behandelings, maar die res is afhanklik van die staat infrastruktuur.

“Een van hierdie behandelingsentrums is die Pediatriese Hematologie Onkologie Eenheid by die Greys Hospitaal in Pietermaritzburg wat op 1 Februarie 2013 sy deure oopgemaak het. Die eenheid het op die oomblik 13 beddens maar benodig dringend fondse om uit te brei en sekere standaard hospitaal gereedskap te koop.

“Cryo-Save South Africa is toegewy aan die ondersteuning van Onkologie Pediatrie en hulle strewe daarna om ’n verskil te maak in die lewens van hierdie kinders. Daarom ondersteun Cryo-Save die Greys Pediatriese Hematologie Onkologie Eenheid deur fondse vir hulle in te samel en self ook fiets te ry vir die saak,” skryf hy.

Hy trap gereeld fiets in die gim en het op Facebook ’n foto van homself voor ’n plakkaat gelaai. “Ware woorde na ’n harde training session,” skryf hy. Die plakkaat lui: “Pain is weakness leaving the body.”

Ons wens hom baie sterkte toe vir sy voorbereiding en die resies!